Wes-Kaap verklaar dispuut oor polisiëring in provinsie

Minister Bheki Cele (Foto: Phando Jikelo, ANA)

Die Wes-Kaapse provinsiale regering het ingevolge die Wet op Interregeringsverhoudinge ʼn dispuut met die ANC-geleide nasionale regering verklaar weens die nasionale regering “se versuim om die provinsie se polisiëringsbehoeftes en -prioriteite aan te raak”.

Alan Winde, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het Maandag gesê die provinsiale regering het in Oktober verlede jaar ʼn dringende brief aan Bheki Cele, nasionale minister van polisie, gerig waarin hy maatreëls uiteengesit het om misdaad in die provinsie te bekamp. Hulle het dit daarna in Desember weer met Cele se kantoor opgevolg.

“Ons wag nog steeds op ʼn voldoende reaksie, of aksieplan, van die nasionale polisie. Ons het heeltemal vertroue in – en geduld met – die minister van polisie en die hele nasionale regering verloor,” het Winde gesê.

“Hulle het op verskeie geleenthede ons versoeke vir hulp en ingryping geïgnoreer, ondanks ʼn grondwetlike verpligting om ons aanbevelings in ag te neem.”

Winde sê die nasionale polisie het ook geen ag geslaan op die Wes-Kaapse regering se aanbod van R5 miljoen om die SAPD-reservisteprogram weer op die been te bring nie. “En hulle het ons aanbod om Wes-Kaapse staatsamptenare beskikbaar te stel om te dien as kommissarisse van ede in polisiestasies ook geïgnoreer.

“Hierdie aanbiedinge sou verseker dat polisiebeamptes verlig word van hierdie administratiewe plig en eerder ons strate patrolleer waar hulle desperaat nodig is.”

Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Courtney Africa

In die Wes-Kaapse formele korrespondensie aan Cele, waarin die dispuut verklaar word, stel hulle dat sy voortgesette stilte rakende hul brief van 10 Oktober 2018, ondanks hul opvolgskrywe in Desember, hulle met geen ander keuse laat as om hom formeel in kennis te stel van die provinsiale regering se verklaring van ʼn dispuut nie.

Winde sê hul aanbevelings rakende die onmiddellike polisiëringbehoeftes en -prioriteite van die Wes-Kaap is aan Cele gelewer in ooreenstemming met artikel 206 (1) van die Grondwet soos gelees saam met die Wet op Interregeringsverhoudinge.

Hy het aangevoer die nasionale regering het deurlopend ʼn onwilligheid getoon om met die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek te tree en saam te werk en kies eerder om die veiligheid van inwoners te “politiseer”.

Die Wes-Kaapse regering is nou verplig om binne 30 dae ʼn vergadering met Cele of ʼn verteenwoordiger van hom te versoek om die presiese aard van die dispuut te bepaal. Hulle moet ook ander maatreëls identifiseer, buiten die hof, wat kan help om ʼn oplossing te bepaal, ooreen te kom oor wat hierdie oplossing sal behels en hoe dit in werking gestel sal word, en ʼn fasiliteerder aan te wys om die inwerkingstellingsrol in te neem.

Cele se kantoor moet dan binne 30 dae ʼn gepaste datum vir die vergadering aan Winde se kantoor verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CM ·

Die probleem met politici en die politieke sisteem is dat dit net kan werk as dié wat daardeur verkies word die regte motiewe het, dws. om die belange van alle landsburgers eerste te stel met alle besluite wat gemaak word.

Suid Afrika is egter een van die beste voorbeelde in die wêreld wat die mislukkings van die politieke sisteem ten toon stel – besluite bevoordeel die persoon of ‘n klein groepie persone eerder as die algemene landsburger.

Die sisteem moet verander. Hou op om die politieke sisteem te ondersteun.

sweis ·

Hou n referendum na die verkiesing ,stig julle eie land met regte polisie ,en maak dit die beste land in Afrika.

Anoniem ·

Dit is stadig maar seker besig om te gebeur, hulle moet net die paar miljoen Oos-Kapenaars wat hier geplant is om amok te maak deporteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.