Wes-Kaap verwelkom bepaling oor privaat kragprodusente

David Maynier (Foto: Wes-Kaapse regering)

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het gesê hy verwelkom die nuus dat nuwe kragopwekkingskapasiteit aangeskaf moet word in lyn met die regering se geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019).

Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, het in samewerking met die nasionale energiereguleerder (Nersa) bepaal dat nuwe kragopwekkingskapasiteit aangeskaf moet word om energiesekuriteit te verseker. Bepalings is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer waarvolgens die departement tenders kan uitreik kragtens artikel 34 van die Wet op Elektrisiteitsregulering.

Privaat kragprodusente sal kan aansoek doen vir die opwek van 11 813 MW.

“Dit is hoekom ons die minister versoek het om dié belangrike stap te neem om met die verkrygingsprogram van hernubare krag van onafhanklike kragprodusente (REIPPPP), die onafhanklike gaskragaanskaffingsprogram (GasIPP) en energiebergingsaanskaffing te begin,” het Maynier gesê.

“Nou doen ons ʼn beroep op die minister om die dringendheid te volhou om seker te maak die aanskaffing en elektrisiteitsaankope-ooreenkomste word gefinaliseer sodat dié projekte aan die netwerk gekoppel kan word. Ons sien ook uit daarna dat die minister meer duidelikheid sal verskaf oor wanneer en hoe munisipaliteite ook kan deelneem as aankopers van elektrisiteit, waar dit behoorlik is, sodat dit nie net Eskom sal wees nie, soos wat dit geskiedkundig die presedent was.”

David Maynier besoek Perdekraal-Oos-windplaas (Foto: Wes-Kaapse regering)

Maynier het gesê die Wes-Kaapse regering neem kennis dat die bepaling aandui dat aanskaffingsprogramme se koppeling aan die nasionale netwerk “so gou as redelik moontlik” moet plaasvind. “Dit is belangrik, want die risiko-mitigasie- onafhanklike kragaanskaffingsprogram (RMIPPPP) van 2 000 MW sal waarskynlik nie voldoende wees om die tekort aan te spreek weens voortgesette tegniese probleme wat Eskom beleef nie.”

Hy het gesê tegnologie van onafhanklike kragprodusente kan die impak versag van verliese op die ekonomie weens beurtkrag (na raming reeds R160 miljard vir 2020 tot datum, aldus Maynier) en dit moet dus prioriteit geniet.

“Belegging in dié groen infrastruktuur, in lyn met post-Covid-19-herstelgeleenthede, sal na verwagting R40 miljard se belegging per jaar verseker aan die ekonomie in Suid-Afrika.”

Hy het benadruk die belegging is in lyn met die Wes-Kaap se strategiese doelwit om die groen ekonomie in die provinsie te bevorder. “Die projekte sal ook ʼn bydrae lewer tot energiesekuriteit, werkskepping en ekonomiese groei in die Wes-Kaap.”

Maynier het vandeesweek die Perdekraal-Oos-windplaas vandeesweek besoek. “Dit is ʼn goeie voorbeeld van hoe privaatsektor-belegging in hernubare energieinfrastruktuur nie slegs ʼn bydrae lewer tot kragverskaffing nie, maar ook werk kan skep en die ekonomie in die Wes-Kaap kan bevorder.”

Maynier het gesê die Wes-Kaapse regering sal alles in sy vermoë doen om ondernemings te ondersteun wat aan die groen energie wil deelneem sodat die provinsie al hoe meer energie-weerstandig kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

J ·

Dit is ‘te min te laat’!

Die ANC rampokker regime moes 20 jaar gelede geluister het toe kundige mense die groot ”shed’ voorspel het!

Kom ons hoop dat die kiesers sal regmaak wat hulle VERBROU het (om vir die ANC kleptokrasie te stem)
… in die volgende verkiesing.

Duck ·

Moet nou nie te vinnig opgewonde raak nie, dis als ‘n ‘sales foefie” vir stemme vir die volgende verkiesing….bla.bla.bla….

Opdiemanaf ·

Gaan kyk bietjie die alternatiewe energie wat in Humansdorp en Jeffreysbaai omgewing opgewek word deur Kouga Windfarms!! Hoekom is die Wes-Kaap nog nie daar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.