Wes-Kaap verwerp wetsontwerp oor onteiening

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

Die Wes-Kaapse provinsiale parlement het besluit om nie die onteieningswetsontwerp te steun nie. Dit is eenparig in die staande komitee oor infrastruktuur besluit nadat nie een van die politieke partye die onteieningswetsontwerp in sy huidige vorm gesteun het nie.

Die komitee meen die wetsontwerp in die huidige formaat –

  • is gebrekkig en ongrondwetlik;
  • bring eiendomsreg vir alle Suid-Afrikaners in die gedrang;
  • sal ekonomiese belegging afskrik;
  • gaan ekonomiese groei binne die provinsie belemmer;
  • is strydig met die beoogde doel; en
  • gaan na verwagting grondhervormingspogings belemmer eerder as om dit te verbeter.

Matlhodi Maseko, die DA se woordvoerder oor infrastruktuur, sê hierdie kommer weerspieël die sentimente wat tydens die openbaredeelnamefase te kenne gegee is – waar inwoners ook hul teenkanting teen die wetsontwerp duidelik gemaak het.

Die komitee het ook sy kommer gelug dat die tydraamwerk wat vir die wetgewende proses toegeken is, onvoldoende was.

“Dit beteken dat nie alle openbare deelnemers tydens die openbare verhore oor die onteieningswetsontwerp bereik is nie.

“Die komitee het ʼn uitstel van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) versoek om bykomende openbare verhore te hou, maar is slegs een week gegun om die verhore aan te bied, wat dit feitlik onmoontlik maak om die nodige openbare insette te kry,” sê Maseko.

“Die DA in die Wes-Kaap, saam met alle ander politieke partye in die provinsiale parlement, het besluit om nie die omstrede onteieningswetsontwerp te steun nie en het verskeie veranderinge aan die wetsontwerp voorgestel.

“Die Wes-Kaap se aanbevelings is aan ons afvaardiging in die NRP gestuur vir voorlegging en verdere oorweging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ian ·

Dia ANC gee nie om wie dit steun of nie steun nie hulle wil alles nou net stoomroller, onteining, NHI, BELA, Huwelik wet en die uitvoere. Hulle is nou desperaat. Vir jare het hulle geplunder en alles laat agteruit gaan en nou het dit hulle ingehaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.