Wes-Kaap waarsku oor hondsdolheid

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenydienste het bevestig dat twee gevalle van hondsdolheid in honde in Khayelitsha, Kaapstad, opgemerk is.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, het gesê amptenare het vandeesweek ʼn inentingsveldtog van stapel gestuur om troeteldiere in Khayelitsha en ander geraakte gebiede in te ent.

“Ons werk saam met welsynsorganisasies en mediese dokters om te bepaal wat die oorsprong van dié uitbreking is en of mense wat gebyt is, behandeling benodig,” het Meyer gesê.

Hondsdolheid is ʼn virussiekte wat diere en mense aantas. Dit word deur speeksel en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra én dikwels van dier na mens oorgedra wanneer die betrokke persoon gebyt, gekrap of op ʼn wond gelek word.

Meyer het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om behandeling te ontvang indien ʼn dier met hondsdolheid hulle besmet het.

“Was enige byt- of krapwond deeglik met seep en water, en gaan dan onmiddellik na ʼn dokter om ʼn inenting teen dié virus te kry.”

Honde met hondsdolheid toon dikwels ʼn skielike gedragsverandering en word aggressief of ongewoon mak. Honde met hondsdolheid sukkel om te sluk en loop gereeld rond met hul mond oop, kwyl of maak verstikkende geluide asof iets in hul keel vassteek.

Die Wes-Kaapse veeartsenydienste het ʼn beroep op troeteldiereienaars gedoen om waaksaam te wees en hul diere na veeartse of dierewelsynsorganisasies te neem om seker te maak hul hondsdolheid-inentings is op datum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.