Wes-Kaap waarsku oor voëlgriep

Groot kommer heers in die Wes-Kaap oor die uitbreking van voëlgriep onder wilde voëls. Die siekte is aanvanklik onder seemeeue opgemerk. (Foto: Saldanhabaai-munisipaliteit/Facebook)

Die Wes-Kaapse owerhede sê hulle probeer ʼn uitbreking van voëlgriep onder wilde seevoëls in die Bergrivier-streek aan die Weskus, sowel as in die Walker Bay-gebied in die Overberg bestry.

Die provinsiale regering sê alle rampbestuurafdelings is op ʼn gereedheidgrondslag en albei munisipaliteite het reeds spanne in samewerking met CapeNature ontplooi om voëls wat siek is of reeds gevrek het te verwyder.

“Veeartse is op die toneel en amptenare volg die raad van veeartsdienste oor die behandeling van siek voëls.”

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het ʼn beroep op mense gedoen om die gebied te vermy en veral nie aan dooie of siek voëls te raak nie.

“Dit is belangrik om die verspreiding van die siekte te voorkom en beteken mense moenie probeer om enige siek voëls te vervoer of selfs na veeartse of rehabilitasiesentrums te neem nie omdat dit die siekte kan laat versprei.

“Dit is belangrik dat die omgewing beheer word.”

In hierdie stadium is die Bergrivier die episentrum met berigte van dooie voëls wat uit onder meer Velddrif en Arniston ontvang is. Plekke soos Dyer-eiland en Robbeneiland word ook geraak en kry aandag.

“Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum doen tans ʼn assessering om te bepaal of die uitbreking ʼn rampsituasie is.”

Die situasie is wel as “ernstig” bestempel.

“Ons neem kennis dat die vrektes tans onder bedreigde wilde voëls, waaronder kormorante, plaasvind.”

Die oorskot van minstens 1 500 dooie kormorante is reeds in die gebied versamel.

Die huidige virusstam is aanvanklik in Mei vanjaar onder wilde voëls opgemerk en het hoofsaaklik meeue geraak.

Die siekte is in die middel van verlede maand onder kormorante opgemerk en het die afgelope week beduidend toegeneem.

“Dit is ʼn ongeneeslike siekte wat voëls raak. Daar is geen voorkoming nie, kan nie behandel word nie en is hoogs aansteeklik vir voëls,” sê Bredell.

Daar is egter geen bewyse dat die virus in hierdie stadium enige bedreiging vir mense inhou nie. Mense kan wel die siekte van ʼn siek voël na ander voëls oordra. Mense word aangeraai om die voëls glad nie te hanteer nie – tensy hulle geen ander keuse het nie – en om in só ʼn geval handskoene en gesigmaskers te dra.

Die owerhede het ook ʼn beroep op mense gedoen om waaksaam te bly en enige ongewone vrektes onder voëls by hulle plaaslike munisipaliteit, bewaringsowerheid of staatsveearts aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zombie ·

Baie mense sal seker nou argumenteer dat daar nie iets soos voëlgriep bestaan nie, of dat dit een of ander duistere komplot van een of ander wêreldorde is en dat die siek voëls nie behandel moet word nie, want hulle natuurlike weerstand is voldoende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.