Wes-Kaap wil R1 miljard aan landbou bestee

Die Wes-Kaap se departement landbou beloof om boere se lewens te vergemaklik. (Foto: Steve Buissinne, Pixabay)

Die minister van landbou in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, het vroeër die week sy begroting vir die finansiële jaar 2022-’23 voorgelê. Hy sê hy gaan amper R1 miljard (R969 218) inspan om sake weer vlot te laat verloop en selfs beter te presteer as voor die afgelope twee jaar se verlammende inperkings.

Die grootste deel van die begroting is boonop geoormerk om ondersteuningsdienste aan boere te bied.

“Ons sal voortgaan om die ekonomiese herstel van die Wes-Kaap te lei, werk te skep en vorentoe te beur,” sê hy.

Dié provinsie voel hulle het ʼn reputasie om te handhaaf.

“Ná die begrotingsrede is die Wes-Kaap as geheel se sentrale tema dat ons vervolgens uitsonderlik beter gaan vaar,” het Daniel Johnson, die spreekbuis van dr. Meyer, aan Maroela Media gesê. “Ons beskou onsself as die provinsie wat die beste bestuur word. Ons maatstaf is nie om net beter as die ander provinsies te wees nie, ons wil uitsonderlik wees.”

Die begroting vir 2022-’23 is onder meer geoormerk vir:

  • R176,4 miljoen aan ingenieurswerke om rampe se uitwerking te versag en volhoubaarheid te bevorder,
  • R296,7 miljoen aan ondersteuningsdienste vir boere,
  • R97,3 miljoen aan dieregesondheidsdienste,
  • R139,6 miljoen aan landbounavorsing,
  • R57,6 miljoen aan vaardigheidsontwikkeling,
  • R41 miljoen aan ekonomiese en bemarkingsondersteuning aan landbou-ondernemings en
  • R48,1 miljoen wat aan ramphulptoelae soos die voorsiening en verspreiding van veevoer bestee gaan word.

 

Werk, veiligheid, welstand en waardigheid bly die Wes-Kaapse regering se strategiese fokuspunte en Meyer wil sy geld aan plekke en behoeftes bestee waar dit verwesenlik sal word:

  • Die departement is ook besig om ʼn Wes-Kaapse Afrika-landboustrategie te ontwikkel. Hierdie strategie sal tot die Afrika-mark gerig word, wat in die Afrika- kontinentale vryhandelsgebiedooreenkoms (AfCFTA) geanker is.
  • Die provinsiale veeartsenykundige laboratorium gaan bygewerk word om boere se hand te versterk en marktoegang te verbeter.
  • Die departement sal sy verstandhoudingsmemorandums met kommoditeitsorganisasies uitbrei om sy kommoditeitsbenaderingstrategie vir boere-ontwikkeling in die Wes-Kaap te versterk.
  • Die Wes-Kaapse daggaplan (CanPlan), sal in 2022 gefinaliseer word om alternatiewe te skep en ondersteuning aan daggaprodusente in die Wes-Kaap te bied.
  • Indringerplantspesies van 20 000 ha sal uitgehaal word, waardeur 800 groen werksgeleenthede geskep gaan word.
  • Die departement sal die Jeug-klimaatveranderingnavorsing- en landboukongres in Junie vanjaar en ʼn droogte- en rampgesprek vir belangegroepe in Oktober aanbied.
  • Voortgesette voorligting in dwelmmisbruik en -voorkoming, wat op landbouwerkers se regte en die plattelandse jeug fokus.

Die departement van landbou in die Wes-Kaap glo dat daar opwindende dinge op die horison wag, gegewe dat landbou in die Wes-Kaap verlede jaar met 8,3% uitgebrei het, wat die naasvinnigste groeiende sektor naas mynbou was, wat met 11,8% gegroei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Renier ·

Watter kleur moet die boere wees om landbou ondersteuning te ontvang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.