Wes-Kaapse burgemeester gekap oor luukse motor

Peter Lobese, burgemeester van Plettenbergbaai. Foto: http://www.bitou.gov.za

Die leierskap in die Bitou- plaaslike munisipaliteit het Dinsdag ʼn mislukte mosie van wantroue teen Peter Lobese, burgemeester van Plettenbergbaai in die Wes-Kaap, as ʼn “goedkoop publisiteitsfoefie” afgemaak.

Die ANC het Dinsdag tydens ʼn spesiale raadsvergadering die mosie van wantroue teen Lobese gebring. Lobese se party, die Active United Front (AUF), is in ʼn koalisie-regering met die DA in die munisipaliteit. Die ANC beweer “buitensporige besteding”, ʼn tekort aan dienslewering en swak leierskap is die grondslag vir die mosie van wantroue.

Die ANC het Lobese gekritiseer omdat hy na bewering binne een maand R60 000 spandeer het op die korttermyn huur van ʼn luukse Volvo sportnutsvoertuig. Dit terwyl ʼn versekeringsondersoek tans aan die gang is nadat sy amptelike voertuig vroeër vanjaar in ʼn ongeluk in Port Elizabeth betrokke was.

Lobese is verder gekap oor bewerings dat belastingbetalers maandeliks meer as R100 000 moet opdok vir sekuriteit by die burgemeester se Kwanokuthula-woning.

Putco Mapitiza, die ANC se sub-streekskoördineerder, het gesê daar is verskeie vrae oor hierdie kwessies in die raad geopper, maar hulle het nooit enige duidelike antwoorde gekry nie en het daarom besluit om voort te gaan met die mosie van wantroue.

Thabo Ndlovu, munisipale bestuurder van Bitou, het die bewerings ontken en die mosie as ʼn politieke foefie afgemaak. “Hierdie bewerings van buitensporige besteding, ʼn tekort aan dienslewering en swak leierskap is te vaag en sonder enige motivering. Ons het egter besluit om daarop te reageer en dit te ontken en te verwerp met die minagting wat dit verdien. Hierdie is niks behalwe ʼn goedkoop politieke foefie deur die ANC nie wat bitter is omdat hulle mag en beheer van Bitou verloor het,” het Ndlovu in ʼn verklaring gesê.

Hy het ʼn beroep op die ANC gedoen om meer besonderhede en konkrete bewyse vir hul bewerings te verskaf.

Ná die jongste plaaslike regeringsverkiesings het die ANC en die DA elk ses setels in die raad verseker met AUF wat die finale setel gekry het. Die AUF en die ANC het daarna ʼn koalisie gevorm om Bitou te beheer, maar sewe maande later het Lobese aangekondig dat die party hierdie ooreenkoms weens verskeie probleme beëindig. Die AUF en die DA het daarna ʼn koalisie gevorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

jan_alleman ·

die ANC sal beter doen om eerste voor hulle eie deur te vee , die probleem le diep in sekere mense se kultuur

In die kol ·

In die kol Joe!! Die bondigste en beste kommentaar tot dusver.

Lientjie ·

Sjoe ANC julle het nie spasie om te praat as dit gaan oor dienslewering nie. Julle weet nie eers wat dit is nie!!!!!!!!!!!!

jaco ·

Ekstra geld het ‘n magiese aantrekkingskrag vir enige iemand. Toe Zimbabwe se opposisie-MDC, wat gedurig kla oor die regerende ZANU se vermorsing van staatsgeld, het hulle dadelik nuwe luukse motors vir al die raadslede gekoop, MET BELASTINGBETALERS se geld.

Bokram ·

Mooi DA julle is net so korrup soos die ANC,ek weet nie hoe n burgermeester dit kan doen aan die belastingbetalers nie,dis veronderstel om iemand te wees om na op te kyk.

John ·

Nee, reg is reg. Die DA moet oppas, alles wat die party doen is en sal nie altyd so volmaak wees soos hul hoop nie. Miskien is dit tyd dat die DA ‘n behoorlike beleid daar stel en nie net ‘aanklaer’-in-die-hof speel om so stemme te wen nie. Te veel munisipaliteite in die land is een-perdekarretjie-gemeenskappe maar die burgemeesters glo hul regeer oor groot state en megastede… en leef soos konings. Terloops hoeveel konings en keisers het ons wat die staatsbeursie leegtap? Waar in die wereld is daar soveel konings en gemeenskapsleiers wat sulke aansien geniet soos hier wat eintlik op afpersing neerkom? Skaal af dan kan ons, ons staatsskuld gou delg.

Andre ·

Die wat die DA kritiseer op grond van die ANC (asof hulle ‘n eerlike party is) se aantuigings in die berig – ANC het julle nou net lekker gebruik en mislei en dis wat hulle orals probeer soos onlangs in Johannesburg, Pretoria, Port Elizabeth ens. Vind eers uit die feite dan kritiseer mens. Die DA neem ook aksie teen oortreders, die ANC stel hulle ootreders aan as presidente, leiers en hoe posisies. Moenie gebruik word.

marous ·

Wonder hoe sal hierdie mense voel as hulle eie besighede het waarvoor hulle moet swoeg en hul personeel vat elke dag alles uit die kas register….

Loeis ·

Dit herinner aan Midvaal, waar die DA lank in beheer was, en wat een van die mees korrupte rade was.

Dit is lankal tyd vir alternatiewe.

Hanna ·

The pot calling the kettle black?! En net gister berig Maroela Media van al die dorpe wat moontlik van oormore af sonder water gaan wees. Wonder wie in beheer van hierdie munisipaliteite is? Viva ANC, viva!

Schalk ·

Ja, vra maar die besigheids eienaars in PTA hoe het nuwe tariewe skielik opgeduik vir allerhande nuwe dienste.
Jammer DA ons besigheidseienaars gaan ook maar langtand byt aan julle beloftes in die toekoms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.