Wes-Kaapse DA-leierskap: Twee kan in die stof byt

Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap (Foto; Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Bisarre gebeure in die Wes-Kaapse DA-leierstryd, onder meer ʼn beweerde moordkomplot, kan daartoe lei dat twee van die leierskapkandidate uitgeknikker word en ʼn derde met die leierskap wegstap.

Dit is ook nie onmoontlik dat die party se Wes-Kaapse leierskapstryd, wat veronderstel is om Saterdag plaas te vind, uitgestel gaan word nie.

Daar is tans vier kandidate in die wedloop, naamlik die huidige leier, Bonginkosi Madikizela, wat ook provinsiale minister van vervoer is, Masizole Mnqasela, wat speaker van die provinsiale wetgewer is, Wendy Philander, wat lid van die provinsiale wetgewer is, en Pieter van Dalen, voormalige parlementslid.

Die beplande proses het sowat ʼn maand gelede tekens van ontsporing begin toon nadat dit aan die lig gekom het dat Mnqasela die polisie ontbied het. Hy het teenoor hulle beweer iemand (hy beweer dis ʼn fluitjieblaser) het hom genader met inligting dat Madikizela ʼn sluipmoordenaar gaan betaal om hom (Mnqasela) te vermoor.

Mnqasela het egter nie die beweerde fluitjieblaser geïdentifiseer nie en het geen klagte ingedien  nie, wat die polisie se hande taamlik afkap om enige stappe te doen.

Mnqasela se samespreking met die polisie het die ore van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, bereik, en ook onder die aandag van Madikizela gekom, wat al die bewerings ontken.

Tot op hede weier Mnqasela volgens Maroela Media se inligting steeds om die beweerde fluitjieblaser te identifiseer, wat daartoe gelei het dat ʼn interne DA-ondersoek van stapel gestuur is.

Intussen blyk dit uit Maroela Media se navrae dat baie afgevaardigdes na die Wes-Kaapse DA-kongres moeg is vir al die drama en hulle al hoe meer agter Philander, wat as ʼn “kerkvrou” beskryf word, skaar.

Dit kan tot gevolg hê dat Madikizela en Mnqasela se stryery tot gevolg het dat hulle albei die leierskap verbeur, wat kan beteken dat Philander die naweek daarmee wegloop.

Nog ‘n opsie wat oorweeg word, is dat die stemmery vir die provinsiale leierskap dalk uitgestel kan word, het die DA-voorsitter in die Wes-Kaap, Anton Bredell, by navraag aan Maroela Media bevestig. Hy sê die res van die kongres sal egter beslis nie uitgestel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Tog so vreemd. Wanneer dit by status en n paar rand kom, smyt sekere mense alle beginsels oorboord.

Jakes ·

Jy moet eers beginsels he alvorens jy dit kan oorboord gooi.

Jannie van Niekerk ·

Of dit nou DA, ANC , EFF, VF+ of watter politieke party ookal is, alles gaan om geld en byvoordele.
Dempokrasie volgens SA standaarde is ‘n euwel.

wim ·

Wil jy nou wragies voorgee dat die VF+ die DA indunas se stam gewoontes toepas? Jy behoort te weet die ANC is die DA se rol model.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.