Wes-Kaapse damvlakke beter as verlede jaar

Argieffoto: Stad Kaapstad

Hoewel dit te vroeg is om die impak van die onlangse reën op Wes-Kaapse damvlakke te bepaal, staan die gemiddelde damvlakke van damme in dié provinsie in aanloop tot die wintermaande op 34,5 %.

Dié syfer lyk aansienlik beter nadat die gemiddelde damvlakke verlede jaar dié tyd maar op 15,8% gestaan het.

Só het James-Brent Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Volgens Styan bring die onlangse reën wat oor groot dele van die provinsie geval het, reeds verligting vir die Wes-Kaapse regering. “[Ons] is baie dankbaar vir die reën wat uitgesak het oor die afgelope paar dae, veral in die Karoo wat die ergste geraak word deur die voortslepende droogte.”

Volgens Styan gaan dié deel van die provinsie vir die grootse deel van die afgelope vyf jaar gebuk onder die droogte.

“Ons is heelwat beter daaraan toe met die ingang van die winter hierdie jaar.”

Styan het wel ’n beroep op Kapenaars gedoen om steeds water so spaarsamig as moontlik te gebruik aangesien die regering die provinsie se waterstelsel moet toelaat om soveel as moontlik te herstel, het hy verduidelik.

“Ons hoop dat ons voortdurende reën sal sien, veral ook in die Karoo-dele van die provinsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.