Wes-Kaapse damvlakke styg slegs met 1,5%

Foto: Stad Kaapstad

Ondanks ʼn paar dae met swaar reën het damme wat die Kaapse Skiereiland van water bedien, slegs met 1,5% gestyg, het die Stad Kaapstad Maandag gesê.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water, het aan eNCA gesê die damvlakke staan nou op 21,2%, met slegs 11,2% van die water wat gebruik kan word.

“Daar was ʼn toename in die damvlakke, maar dit beteken nie dat ons uit die kritieke toestand is nie,” het sy gesê.

Die Stad maan inwoners om steeds waterbesparingsmaatreëls toe te pas. Die Vlak 4-waterbeperkings bly steeds van krag.

Limberg het gesê die Stad sal teen die einde van Julie begin om water uit die Tafelberg-akwifeer te tap en dit sal na verwagting tussen twee tot vyf miljoen liter water per dag verskaf. Planne om in die Kaapse Vlakte-akwifeer te boor is ook in wording. Dit sal na verwagting tussen drie en vyf miljoen liter water per dag verskaf.

Die stad versnel ook sy planne om twee ontsoutingsaanlegte te vestig as deel van sy “holistiese plan” om bestaande waterreserwes te ondersteun. “Die twee ontsoutingsaanlegte sal na verwagting later vanjaar of vroeg in 2018 beskikbaar wees,” het Limberg bygevoeg.

Sy het gesê die stad het R315 miljoen opsy gesit om die bykomende skemas te finansier en bykomende fondse word geprioritiseer in volgende jaar se begroting.

“Ons moet diversifiseer en kan nie net op oppervlakwater staatmaak nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Watertafel ·

Moet net nie die boorgate ooreis en die watertafel ‘seermaak’ (soos die oumense dit uitgedruk het).

Swannie ·

Ek is bly om te lees dat Stad Kaapstad darem planne in die pyplyn het om die waterkrisis op te los. Kom ons hoop dit is nie te laat nie.

Dit sal goed wees as daar 2 of 3 ‘artificial recharge facilities’ ook in die nabye toekoms gebou kan word. Dit sal die gebruik van grondwater (aquifers) meer volhoubaar maak.

Gerfanus ·

Ja, en as die Kaap brand , word nog meer water benodig ! Soos nou by Kaapstad stasie gebeur het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.