Wes-Kaapse data wys ‘entstof wérk’

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die oorgrote meerderheid van die mense wat ernstig siek word aan Covid-19 in die Wes-Kaap is nie ingeënt nie.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het vandeesweek nuwe data ter ondersteuning van die doeltreffendheid van Covid-19-entstowwe om ernstige siektes en sterftes te verminder, bekendgestel.

Die departement het data van mense bo 60 wat tussen 14 en 20 Augustus met Covid-19 gediagnoseer is, ontleed. Hierdeur is bevind dat minder mense wat die entstof ontvang het ernstig siek geword het as dié wat nie ingeënt is nie.

“Dié ouderdomsgroep was eerste in aanmerking om die entstof te ontvang en verteenwoordig die grootste aantal mense wat volledig ingeënt is.”

Volgens die departement was meer as 270 619 uit 720 000 mense bo 60 teen die tyd van hierdie ontleding volledig ingeënt.

Die ontleding is onder leiding van prof. Mary-Ann Davies, direkteur van die sentrum vir oordraagbare siektes by die Universiteit van Kaapstad en openbare gesondheidspesialis by die departement van gesondheid, gedoen.

Die data toon aan dat 2 245 (92%) uit 2 455 (8%) mense wat in die betrokke tydperk Covid-19 opgedoen het, nie ingeënt was nie.

Uit hierdie groep is 729 mense in die hospitaal opgeneem, van wie 30 mense (4%) die entstof ontvang het.

Die Covid-19-verwante sterftes wat vir hierdie tydperk aangeteken is, dui daarop dat 287 (98,3%) uit 292 mense wat weens die virus omgekom het, nie teen die virus ingeënt was nie.

Volgens die data is slegs 1,7% van dié wat ingeënt is, oorlede weens ander komplikasies wat nie met die entstof verband hou nie.

“Die doeltreffendheid van die entstowwe en die mate waarin dit die risiko van hospitaalbehandeling of sterftes verminder, kan nie duideliker aangetoon word nie,” het die departement Donderdag in ʼn verklaring gesê.

“Dit is waarom ons voortdurend met gemeenskappe skakel en mense aanmoedig om die entstof te ontvang om hulself te beskerm en hul lewe te red.”

ʼn Infografika wat vandeesweek deur die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad uitgereik is, dui ook aan dat slegs drie van die hospitaal se 254 Covid-19-pasiënte die inenting ontvang het.

Nie een van die pasiënte wat tans in dié hospitaal se hoësorg- of waakeenheid opgeneem of aan ʼn ventilator gekoppel is, is ingeënt nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.