Wes-Kaapse munisipaliteite is verreweg beter, sê Stats SA

Grafika: Municipalities.co.za

Omvattende empiriese navorsing deur Statistieke Suid-Afrika het bevind munisipaliteite in die DA-beheerde Wes-Kaap vaar in absoluut elke meetbare aspek verreweg beter as munisipaliteite in die res van die land.

Dit geld veral die Wes-Kaapse munisipaliteite waar die DA in beheer is. Die enkele ANC-beheerde munisipaliteite in die provinsie, en die een munisipaliteit waar die ANC en Icosa in koalisie regeer, vaar minder goed, onder meer wat finansies, skuldbestuur en betaal van Eskom-rekeninge betref.

Statistieke Suid-Afrika se nie-finansiële sensus van munisipaliteite landwyd, wat Donderdag gepubliseer is, plaas die Wes-Kaap loshande bo (in die mate dat dit lyk na ‘n ander wêreld as die res van die land) wat elke aspek van suksesvolle munisipale dienslewering betref, vir relatief ervarende mense sowel as vir die armstes, want die provinsie se munisipaliteite verskaf onder meer die meeste gratis water, gratis elektrisiteit, gratis riolering en gratis sanitasie (skoonmaak van dorpe) vir arm mense – omvattend meer as die res van die land.

Ook vir diegene wat welvarend genoeg is om vir dienste te betaal, is die Wes-Kaap in ‘n heeltemal ander klas as die uitrafelende res van die land se munisipaliteite – Statistieke SA wys dat ook die kwaliteit van water, elektrisiteit, riolering en sanitasie (skoonmaak van dorpe) waarvoor belastingbetalers opdok, onvergelykbaar beter is as wat in die res van die land “dienslewering” genoem word.

Die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell (‘n voormalige burgemeester van die Swartland-munisipaliteit in Malmesbury wat bekend is om sy kundigheid en strengheid) het die bevindings verwelkom as erkenning en aanduiding dat almal in sy departement en in die provinsie se munisipaliteite wat elke dag nougeset, reëlgebonde, konsekwent en hard werk om juis te verseker dat die Wes-Kaap se munisipale bestuur die beste is wat jy in Suid-Afrika kan kry.

Die publikasie van die omvang van elke munisipaliteit in die land se skuld aan Eskom het verdere goeie nuus gebring vir Bredell en sy departement, wie se aandele by Wes-Kapenaars wat hou van swem in riviere die afgelope tyd ‘n bietjie gedaal het omdat hulle sukkel om al die krokodille te vang wat by Bonnievale in die Breërivier beland het.

Maar die Eskom-skuldsyfers, wat in die res van die land ‘n bedroewende verleentheid is wat die land ekonomies mank laat en in die meeste munisipaliteite onoplosbaar lyk, is byna oral in die Wes-Kaap doodgewoon glad nie ‘n probleem nie – in elk geval nie in die DA-beheerde munisipaliteite nie.

Geen enkele DA-munispaliteit in die Wes-Kaap het ‘n enkele sent uitstaande skuld by Eskom nie – al hul Eskom-rekeninge is betaal. In totaal het 26 van die Wes-Kaap se 30 munisipaliteite geen uitstaande Eskom-skuld nie.

Maar die vier Wes-Kaapse munisipaliteite wat wel uitstaande skuld aan Eskom het, is almal onder ANC-bewind, wat beteken amper elke ANC-beheerde Wes-Kaapse munisipaliteit lyk soos die res van die land se ANC-munisipaliteite wat die onvermoë betref om finansies kundig genoeg te bestuur om die munisipaliteit se Eskom-rekening te betaal.

Die vier ANC-beheerde Wes-Kaapse munisipaliteite met uitstaande Eskom-skuld is die Matzikama-munisipaliteit in Vredendal (‘n hanteerbare R7.1 miljoen), en drie munisipaliteite wat gaan sukkel om hul skuld te betaal, naamlik die Cederberg-munisipaliteit in Citrusdal (R39,6 miljoen), Beaufort-Wes (R29,1 miljoen) en die Kannaland-munisipalieit in Ladismith, waar die ANC in koalisie met Icosa regeer (R13,9 miljoen).

Bredell het ook aangekondig dat die forensiese eenheid in sy departement uitgebrei word om pro-aktief te soek na korrupsie en wanbestuur, sodat die Wes-Kaap ook op daardie belangrike punt die beste in die land kan bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mariana ·

Baie geluk DA, weereens bewys julle, julle kan die Wes-Kaap bestuur soos dit hoort. Vat daai munisipaliteite onder ANC terug en maak hulle ook suksesvol.

Jaco ·

Moenie sulke goed publiseer en uitbasuin nie. Môre oormôre is die ANC weer jaloers op “die rassistiese DA” en dan word al die Wes-Kaap se strande weer vir 6-7 weke gesluit.

Jaco ·

Ek bly in een van daardie wonderlik goed bestuurde DA-beheerde munisipaliteite. Ons plaaslike belastingbetalersvereniging sukkel nou al langer as 1 jaar om ‘n onwettige karwas- en snoepwinkel besigheid wat alles uit ‘n woonhuis bedryf word. Daar IS munisipale regulasies wat sulke goed verbied, maar die DA-beheerde munisipaliteit is doodstil. NIKS word gedoen on dié onwettige besigheid toe te maak nie. As dít is hoe die DA regeer, dan sidder ek vir wat gaan gebeur wanneer die ANC ons munisipaliteit oorvat.
Maar nou ja, elke raadslid kry mos R500 000 per jaar PLUS ‘n luukse motor PLUS ‘n vet petroltoelae PLUS ‘n vet onthaaltoelae, so waarom nou moeite doen vir die kiesers wat jou ingestem het?

Francois Le Cochon ·

Beste een wat ek van weet was dat Kannaland ‘n tuinier aangestel het as finansiele direkteur.

Cherokee ·

Dìt is nou lekker om te lees! As dit nie daarvoor was dat absoluut elke enkele lid vab die DA vir sogenaamde ‘regstellende aksie’ stem nie, dan sou dit selfs meer prysenswaardig gewees het.

MakersMark ·

Glad nie verbaas nie kyk watter ongeletterdes bestuur die res.

Pieter ·

Our people stem vir hul eie ellende. Geen simpatie by my nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.