Wes-Kaapse munisipaliteite onder land se voorstes

Mosselbaai (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die DA in die Wes-Kaap is in sy noppies nadat die mees onlangse verslag van Ratings Afrika drie van sy munisipaliteite as van die voorstes in die land aangewys het.

Die drie top- plaaslike owerhede in die Wes-Kaap is Mosselbaai, Saldanhabaai en Swartland.

“Oor die jare het dié munisipaliteite hul finansiële volhoubaarheid versterk op so ʼn manier dat hulle gehalte diens, selfs in onbestendige tye, kan lewer,” het Bonginkosi Madikizela, die DA-leier in die Wes-Kaap, gesê.

Munisipaliteite word beoordeel op hul vermoë om die infrastruktuur wat nodig is om dienste te lewer sonder om heffings of tariewe te verhoog of die vlak van dienslewering te verlaag, te ontwikkel en te onderhou. Hulle word ook beoordeel op hul vermoë om finansiële druk in krisistye te bestuur.

“Die Wes-Kaap is nie net die provinsie met die hoogste telling in die land nie, maar ook die enigste provinsie wat sy finansiële volhoubaarheid oor die afgelope vyf jaar verbeter het. Dit is nogal ʼn prestasie, veral om die onvoorsiene omstandighede waarin die land hom tans bevind teen te werk,” het Madikizela gesê.

Hy het gesê Covid-19 en die landwye afsonderingstydperk plaas groot druk op die ekonomie en het tekortkominge by talle instellings ontbloot en mense in armoede gedompel.

“Ons DA-geleide munisipaliteite het oor die jare hulself verbind tot die handhawing van behoorlike langtermynontwikkelingsbeplanning, finansiële bestuursbeleid en dissipline. Dit het die munisipaliteite toegelaat om ʼn veiligheidsnet te bou en die druk wat Covid-19 veroorsaak het, te absorbeer om te verseker dat alle inwoners, veral die kwesbaarstes, steeds behoorlike dienste ontvang.”

Volgens Madikizela is die Ratings Afrika-verslag ʼn weerspieëling van die rol wat raadslede speel om goeie regering te verseker. “Die DA wil dus die raadslede in elk van die munisipaliteite vir hul harde werk en toewyding loof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
'n Simpelman

Wel gedaan.
So moet dit wees.

Daar kan sukses wees as riglyne gevolg word en almal hul werk doen.

Isabella

TROTS op di Wes-Kaap dt kan gedoen word mooi so DA!!!

Danie

Baie geluk DA. As julle so aangaan dan neem ek my stem van VF+ met die volgende stem na julle. Julle doen goed en dit is wat mense wil sien.

Jakes

Baie geluk. Dit gebeur wanneer bevoegde mense hul dorpe reg bestuur.

Kokerboom

Kan daardie voorreg ook maar nie uitgebrei word na res van die land?