Wes-Kaapse offisier se gesin ‘leef in vrees’

Die huis van lt.kol Charl Kinnear in Kaapstad tydens polisiebewaking. (Foto: Verskaf)

ʼn Wes-Kaapse polisieoffisier en sy gesin vrees vir hul lewe ná ʼn beweerde aanval op hul huis verlede jaar waartydens twee verdagtes in hegtenis geneem is. Die motief agter die aanval is nog nie bekend nie, maar dit wil voorkom of daar ʼn soort “trefferlys” bestaan waarop die name van polisiemanne verskyn wat hoëprofiel sake ondersoek.

Lt.kol. Charl Kinnear, speurhoof van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid (AGU), en sy vrou, Nicolette, is boonop bekommerd dat dié vermeende aanvallers Dinsdag op borgtog vrygelaat sal word.

Kinnear, onder meer die hoofondersoekbeampte in die afpersingsaak oor veiligheidsdienste in Kaapstad, se huis het einde verlede jaar in ʼn beweerde aanval ʼn teiken geword toe Faeez Smith, ʼn 27-jarige man, buite Kinnear se huis met ʼn handgranaat in sy besit deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem is. ʼn Ondersoek na die voorval het gelei tot die inhegtenisneming van ʼn tweede verdagte, Amaal Jantjies, ʼn vrou wat glo as tussenganger opgetree het.

Die beweerde aanval het op 23 November plaasgevind terwyl Kinnear en sy vrou asook hul twee seuns in die huis was.

“Gelukkig was ons toe onder polisiebewaking en het hulle [die polisie] onraad gemerk,” het Nicolette ná die voorval gesê. Die Kinnears se huis is op 14 November onder 24 uur-polisiebewaking geplaas. Dit volg ná die skietdood van lt.kol. André Kay slegs ʼn paar strate weg van die Kinnears se huis. In dieselfde week het dit bekend geword dat Kinnear saam met ander lede van AGU op ʼn sogenaamde trefferlys is. Kinnear werk aan sake wat figure uit die bende-onderwêreld, soos Nafiz Modack, Colin “Donkie” Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé, insluit sowel as aan die sluipmoord op die adv. Pete Mihalik.

(Foto: SAPD)

Dié polisiebewaking is egter op 19 Desember, twee dae voor die begrafnis van die voormalige Hard Livings-bendeleier, Rashied Staggie, beëindig, sonder enige vooraf reëling met die Kinnear-gesin.

Volgens Nicolette het die wagte glo net nie vir hul volgende skof opgedaag nie. By navraag oor die onttrekking van polisiebewaking is daar net vir hulle gesê: “Die generaal het die nagwagte gestop.”

Genl.maj. André Lincoln, Wes-Kaapse hoof van die teenbende-eenheid (AGU), kon nie met Maroela Media oor die insident praat nie en voer aan hy is nie by magte om enige vrae in dié verband te beantwoord nie.

Nicolette sê sy het “nou genoeg gehad”. Hoewel dit nie op die oog af voorkom dat hul gesin beperk word as gevolg van die werk wat Kinnear vir die staat verrig nie, erken sy tog dat hulle in vrees lewe.

“Jy weet nie wat hulle [onderwêreld bendefigure] kan doen nie. Jy weet nooit wie gaan hulle teiken nie, my of Charl of my kinders.” Hoewel die mees onlangse insident die eerste fisieke beweerde aanval op die Kinnear-gesin was, sê Nicolette dat haar man se naam al telkemale op ʼn trefferlys was. Sy meen hulle is nie die enigste gesin wat daagliks in vrees lewe nie en dat sy wel meer van die staat verwag wanneer lede aangeval word.

“Ek weet nie, as Charl wat soveel hoë profiel sake dra so in die koue en alleen is, wat van juniors? My hart bloei vir die manne. Daar moet ʼn ernstige boodskap gestuur word. Daar is net te veel polisielede oor die algemeen wat hulle lewe verloor.”

Navraag aan die Wes-Kaapse Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor watter protokol gevolg word ten opsigte van die beskerming van polisielede kon geen duidelikheid bied nie. Volgens die provinsiale bevelvoerder vir mediakommunikasie, kol. Andrè Traut, word “inligting van hierdie aard nie met die media gedeel nie, en word probleme rakende die beskerming van ons lede intern hanteer”.

Volgens Graham Daniels, Wes-Kaapse woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisie-vakbond (Sapu), moet daar ten minste ʼn riglyn of protokol wees wat die SAPD volg met betrekking tot die beskerming van sy lede.

Of sulke protokol in ʼn handleiding uiteengesit is om eindelik in praktyk toegepas te word, is onduidelik.

Lirandzu Themba, woordvoerder van Bheki Cele, die minister van polisie, kon wel aan Maroela Media die minister se versekering gee: “Die veiligheid van ons lede in blou bly ʼn hoë prioriteit vir die polisie en dit is die kern van die strategiese imperatiewe van die polisie om die veiligheid van ons lede te verseker. Polisielede is ʼn nasionale aanwins en hulle moet deur almal beskerm word, insluitend die gemeenskap.”

Die twee verdagtes, Smith en Jantjies, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord. Smith word ook aangekla vir die besit van gevaarlike plofstof. Hulle verskyn vandag (21 Januarie) weer in die Bishop Lavis-landdroshof om aansoek te doen vir borgtog.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat die NVG borgtog gaan teenstaan.

Intussen hoop Nicolette dat Cele sy woord gestand sal doen wanneer hy meen polisieveiligheid is “ʼn hoë prioriteit”, maar voeg dan by: “Dit is all say aan hulle kant en niks doen nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

wilma ·

my hart gan uit na die gesin.Net n man wie sy brood op eerlike manier verdien. ons is so keelvol
tyd dat bendelede summier moet afgemaai word maar die staat beskerm mos die krimineel en die wetsgehoorsames moet in hul huise wegkruip. sies vi die staat wat die wetsgehoorsames gefaal het

Capie ·

Beskerming van ‘n geteikende polisielid word summier gestop.
Wel, mens kan maar net wonder

Nettie ·

@Capie – ja-nee, jy kan maar vir seker weet: daar is weer ‘n hand wat gebotter is onder die tafel, hierby betrokke.

Kas ·

Wilma ja,die lid werk aan hoë profiel sake en sy lewe is dus altyd in gevat.My vraag is:hoekom kan bendebedrywighede nie hom geslaan word nie.Is daar manne in blou wat deel is van die bendes.Hoeveel van die manne is al gevang vir misdade wat hulle gepleeg het.Sterkte aan die gesin.

Thinus Erasmus ·

Mm gaan seker weer my kommentaar delete maar hoe vrot kan SAPD darem raak! Die verdagte moet van terrorisme aangekla word, ‘n handgranaat is nie net gevaarlike plofstof nie maar wapens waarmee terrorisme uitgevoer word. Borgtog behoort nie eers opsie te wees nie.
Aan die betrokke gesin kan ek maar net sê: plaas julle self maar in jul eie save house in ander dorp of area – die SAPD sal rustig jul moord MONITOR.

JohanR ·

Lyk my deesdae moet ‘n polisieman wat by hoeprofiel sake betrokke is, sommer in drie of vier huise bly, en niemand, nie eers Genl.maj. Andre Lincolin, of eenige ander polisieman mag weet waar dae huise is nie. Jy vang vandag twee, en more is hulle vier. Altyd iemand wat vir lekker geld ‘n polisieman en sy famile sal uitvat.

Al ·

My hart gaan uit na die gesin. Ñ Polisieman wat integriteit het en sy werk doen, word geteiken en se lewe is in gevaar.
Toe op ñ dag word die polisiebeskerming gestaak. En die skuldige doen aansoek vir parool.
Watter voorbeeld stel ons geagte hoë offisiere aan jong konstabels? Die konstabels sal bang wees om hul werk te doen
Dis wat verkeerd is met ons land en sy ontsettende hoë onaanvaarbare vlakke van misdaad. Die vrot appels moet verwyder word.
Voor dit nie gebeur nie, kan niemand rustig in SA slaap nie.

KP ·

Die regering wil die Weskaap destabiliseer, so gebruik hulle bendes om dit te doen. Die enigste provinsie in die land wat nog funksioneer.

Thinus Erasmus ·

KP jy is presies reg. Ek sê lankal die regering probeer misdaad net bestuur sodat dit in hul doelwitte kan help.
Daar is geen wil of poging om misdaad in geheel te beveg nie. Probeer om die Mafia op eerbare besigheid te laat funksioneer – dit is onmoontlik. Selfde gevolg as misdadigers die regering word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.