Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê diegene wat tussen 13 Maart en 14 April die aanlyn registrasieproses vir skoolplasings suksesvol voltooi het, sal van Maandag af terugvoer oor plasings begin kry.
Skole in die provinsie het die afgelope paar weke hul toelatingsbeleid nagegaan en volgens hul beskikbare kapasiteit skoolplasings vir aanstaande jaar gemaak.
“Ouers sal aanlyn kan sien by watter skole hulle aansoek gedoen het en waar dié aansoeke suksesvol was,” sê Kerry Mauchline, woordvoerder van die LUR van onderwys in die provinsie.
Ouers kan die skoolplasings hier nagaan óf by 0860 142 142 en [email protected] aanklop sou daar enige tegniese probleme opduik.
Suksesvolle plasing? Doen dít:
Mauchline sê indien ʼn plasing suksesvol was, moet ouers aanlyn aanmeld en klik om die plasing te aanvaar.
Ouers moet teen 19 Junie hul kind se skoolplasing aanlyn bevestig. Ná hierdie datum sal die departement outomaties die skool kies wat die hoogste op die leerder se lys van suksesvolle plasings verskyn.
“Ons doen ʼn beroep op ouers om hul kinders se plekke by skole so gou moontlik te bevestig, aangesien dit dan plek vir ander leerders beskikbaar stel,” sê sy.
“Dit is veral belangrik om dit so gou moontlik te doen wanneer ʼn leerder meer as een plasingsaanbod het.”
Sodra ouers op ʼn skool besluit, moet hulle binne sewe dae van die aanvaarding ʼn gedrukte afskrif van die aansoek by die betrokke skool aflewer.
Geen suksesvolle aansoeke? Maak só:
“Daar sal leerders wees wat nie geplaas word tydens die eerste fase nie,” sê Mauchline.
“Ons besef dat dit uiters stresvol en teleurstellend is, maar ouers moet in gedagte hou dat dit nog baie vroeg in die skoolplasingsproses is en dat daar nog duisende plekke beskikbaar gestel sal word.”
Volgens die departement is daar meer as 41 000 leerders in die provinsie wat meer as een skoolplasing ontvang het. Dit beteken dat meer as 41 000 plekke by skole sal oopgaan sodra dié leerders besluit het watter skool hulle wil bywoon.
Mauchline stel wel voor dat ouers gereeld in verbinding bly met die skole waarby hulle aansoek gedoen het en versoek dat hul kinders op ʼn waglys geplaas word.
“Indien leerders by geen skool in die volgende paar maande geplaas word nie, sal die departement ingryp en ʼn plasing doen,” sê sy.
Dié plasings sal egter eers aan die einde van September gedoen word wanneer die meeste leerders reeds geplaas is en die kapasiteit van skole bevestig is.
Nog nie aansoek gedoen nie? Doen dit só:
Hoewel die aanlyn aansoeke nou gesluit is, kan ouers steeds vir volgende jaar aansoek doen deur ʼn leerderplasingsvorm in te vul en by hul naaste onderwysdistrikskantoor in te dien.
“Ouers word aangeraai om nie te wag nie en so gou moontlik aansoek te doen as hulle nog nie het nie,” sê Mauchline.
Die departement beplan om nog 21 skole in die provinsie te bou en 289 ekstra klaskamers in te rig by bestaande skole waar die vraag na skoolplasings die hoogste is.
Nie by een van ons 3 keuses ingekom nie, nou wat nou? , mag net by 3 aansoek doen. Dink nie Weskaap is veel beter as Gauteng nie.
Ek is nie seker of dit verander het nie, maar so paar jaar terug kon mens op die WCED portaal by meer skole aansoek doen, sterkte ek kan my nie indink watse proses dit nou moet wees nie.
Hulle beplan nog om skole te bou. Wonder watter eeu!
Die Wes-Kaap LUR van onderwys kan versoek maar hang af van die nasionale departement van onderwys.
Die Wes Kaap is baie beter as Gauteng, Gauteng begin eers baie later in die jaar en word jaarliks n gemors, ons het so paar jaar terug deer die proses gegaan en ek kan eerlik se dit is besonders goed bestuurd.
Baie sterkte Wes kaap. ek is jammer dat julle nou ook blootgestel word aan hierdie belaglike sisteem.
Kleinkind by eerste keuse van skool ingekom in noordelike voorstede Wes Kaap. . In Wes Kaap word dinge reg gedoen
Baie klagtes in die Weskaap oor plasings, maar net weer bewys DA is net so disfunksioneel soos ANC, wolf in skaapklere hulle glad nie beter nie, praat baie maar doen maar min tot niks