Wes-Kaapse ouers het ʼn week om skole te kies

Leerders van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad het vroeër vanjaar voornemende gr. 8-leerders by die skool se opedag verwelkom. Foto: Facebook

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê sowat 8 100 plekke in skole in dié provinsie word tans geblokkeer deur ouers wat nog nie bevestig het waar hulle hul kinders volgende jaar wil inskryf nie.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse onderwysminister, sê dis gevalle waar leerders by meer as een skool aanvaar is. Daarom verskyn hul name op meer as een toelatingslys. “Dit beteken hulle blokkeer die potensiële plasing van leerders op waglyste.

“Ons skole is reeds vol; daarom vra ons dat ouers verantwoordelik optree en nou ʼn skool vir hul kinders vir 2019 kies.”

Sy sê ouers word aangemoedig om wel by meer as een skool aansoek te doen en in sommige gevalle lei dit daartoe dat leerders by tot vier skole aanvaar is. Die grootste probleem is die meer as 5 000 voornemende gr. 8-leerders wat by meer as een skool geregistreer is.

“Ons moedig ouers aan om dan te verseker dat hulle elke skool inlig oor of hulle die inskrywing aanvaar of van die hand wys,” sê Schäfer.

Sy waarsku as ouers nie die skool in kennis stel oor of hulle die plek vir hul kinders aanvaar nie, is al uitweg vir die hoof om die plekke aan ander leerders op die waglys te gee.

“Ons doen ʼn beroep op die ouers van leerders wat by meer as een skool aanvaar is en wat nog nie hul kinders se plekke by een van die skole aanvaar het nie, om die skole teen Woensdag 19 September te laat weet van hul keuse. So nie sal staar die vooruitsig om hul plek by al die skole te verloor hulle in die gesig.”

Volgens haar word talle leerders teleurgestel omdat hulle nie by die skool van hul keuse aanvaar is nie of by geen skool nie. “As ons dié [meer as 8 000] plekke beskikbaar kan maak, kan ons die onsekerheid van duisende leerders uit die weg ruim wat ʼn kans het om in hul voorkeurskool aanvaar te word,” sê Schäfer.

“Dit verlig die stres van talle mense, onder wie ons amptenare, wat hard werk om almal te akkommodeer.”

Ferdi Pieterse, waarnemende hoof van die Hoërskool Punt op Mosselbaai, sê hulle het al die voornemende gr. 8-leerders se ouers gebel en gevra hulle moet skriftelik bevestig dat hulle volgende jaar by die skool wil inskryf.

So kon die skool ʼn hele aantal aansoekers van die lys afhaal. Hy sê dit het ʼn hele aantal plekke vir anders leerders beskikbaargestel. “Ons het nou ʼn paar plekke aan die Afrikaanse kant van vyf klasse per graad, maar die Engelse kant van twee klasse per graad is vol.”

André Franken, hoof van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, sê hulle het reeds verlede kwartaal alle voornemende gr. 8-ouers gebel. “Al die ouers het ʼn finale keuse gemaak.”

Hy sê die gr. 8-groep is reeds vol danksy goeie bemarking en die feit dat hul voederlaerskole – Jan van Riebeeck, Simon van der Stel en Paul Greyling – se getalle toeneem. “Ons verwag 110 leerders in gr. 8,” sê hy, “maar daar is nog enkele plekke beskikbaar vir gesinne wat hierheen verhuis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.