Wes-Kaapse ouers moet nou spring vir volgende jaar

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het die sperdatum vir nuwe inskrywings by skole in dié provinsie vir 2018 bekend gemaak.

Die sperdatum is Vrydag 24 Maart 2017.

Jess Shelver, woordvoerder vir die departement het gesê die sperdatum is so vroeg aangesien daar toenemend ʼn groter aanvraag is vir plekke in skole in die Wes-Kaap. “Die sperdatum is ook spesifiek van toepassing op nuwe leerders wat vir gr. 1 of gr. 8 inskryf, asook dié wat van skool verwissel,” het Shelver gesê.

Volgens Shelver is die registrasiesperdatum so vroeg om ook vir die skole genoegsame tyd te gee om die aansoeke in die tweede termyn te verwerk en sodat skole kan begin plan maak indien hulle nie genoeg plek sal hê nie. Skole is al in September 2016 in kennis gestel van dié reëling.

Skole het volgens Shelver al op 30 Januarie die SAMI-stelsel (School Admissions Management Information) begin gebruik om nuwe aansoeke te verwerk.

Skole moet teen 3 Junie 2017 ouers in kennis stel of hul aansoek suksesvol was. Op hul beurt moet ouers die aanvaarding tot die skool teen 30 Junie bevestig.

“Ons maan ouers om die aanvaarding tot die skole te bevestig teen die gegewe datum om te voorkom dat ons met ʼn situasie sit waar leerders by meer as een skool ingeskryf is of op verskeie waglyste voorkom. Dit sal dit makliker maak vir die departement om leerders te plaas wat as gevolg van onvoorsiene omstandighede moet trek,” het Shelver gesê.

Die departement kan nie onmiddellike plasing vir enige kind by sy skool van keuse of vir dié wat laat aansoek doen waarborg nie. “Dit is dus noodsaaklik vir ouers om by verskeie skole aansoek te doen,” het Shelver gesê.

Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, het ouers aangeraai om hierdie verantwoordelikheid baie ernstig te neem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Soos dit nou aangaan sal ouers wat se kinders in Graad 0 inkom sommer ook vir die hoerskool en universiteit moet registreer. Wag ek is verkeerd. As die kinders gebore word registreer sommer plek in die kleuterskool, laerskool, hoerskool en universiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.