Wes-Kaapse ouers raadop oor plek vir graadeens

Sommige ouers is uiters bekommerd omdat hul kinders geen plasing ontvang het nie. (Argieffoto: ANA)

Terwyl die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) begin terugvoer gee aan derduisende ouers wat aanlyn aansoek gedoen het om plasing vir gr. 1-leerders in dié provinsie, sukkel sommige ouers jare reeds om plek in skole naby hul huis te kry.

Nagenoeg 150 000 aansoeke om plek in ʼn skool vir volgende jaar is reeds vanjaar ontvang.

ʼn Ma van Durbanville sê sy het by vier skole in haar omgewing aansoek gedoen om plasing van haar voornemende gr. 1-leerder, maar nie ʼn enkele een was suksesvol nie. “Dit is geweldig frustrerend,” sê sy.

Die ma, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, sê sy het die aansoeke ingedien kort nadat die aansoekproses vroeër vanjaar geopen het.

Sy doen die afgelope jaar tuisonderrig met haar oudste kind omdat sy vanjaar ook nie plek as gr. R-leerder by enige skole in die onmiddellike omgewing kon kry nie. Tuisonderrig is egter nie ʼn  volhoubare opsie vir die gesin nie.

“My kind moet volgende jaar in ʼn skool wees. Dié situasie is stresvol en geweldig frustrerend. Sekere gesinne kry aanbiedinge by selfs drie skole, maar ons kry nie een nie,” sê sy.

Die ma sê sy kan dit bloot nie bekostig om haar dogter na ʼn private skool te stuur nie en waar die gesin die skoolgeld van goedkoper private skole dalk wel sal kan bymekaarmaak, is plekke ook reeds gevul.

“Ander ma’s sê vir my hulle is plasings aangebied in plekke baie ver van hulle af. Wat word dan van die kinders wat in daardie gebiede woon? Die proses maak glad nie vir my sin nie.”

Lize Marais, die eienaar van ʼn private leersentrum in Gordonsbaai, stem saam dat die gebrek aan voldoende plek in skole groot frustrasie veroorsaak.

Marais sê die probleem geld dikwels ook vir ouers wat deur die loop van die jaar na die provinsie verhuis en dan desperaat soek na plek vir hul skoolgaande kinders.

“Alle ouers kan nie private skole bekostig nie. In sommige gevalle word kinders tuisgehou, hulle doen dalk tuisonderrig of word ingeskryf by ʼn sentrum soos myne.”

Sy sê sommige leerders wag maande en selfs jare lank om ʼn plasing by ʼn skool te kry. Wanneer ʼn kind boonop spesiale behoeftes het, is die nood selfs groter.

Marais sê sommige ouers stap van skool tot skool uit desperaatheid om ʼn plek vir hul kinders te probeer verseker.

Sy sê Gordonsbaai het net een laerskool, en terwyl tientalle nuwe behuisingseenhede opgerig word, is daar oënskynlik geen vooruitsig op nog ʼn skool nie.

“Hier is ʼn enorme klomp kinders wat net nie plek in ʼn skool kry nie.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, sê die departement het altesame 408 672 aansoeke van 149 633 geregistreerde gebruikers ontvang. Sy sê skole gebruik sedertdien hul toelatingsbeleid om plasings vir volgende jaar te bepaal.

Sedert Maandag wys die webwerf of aansoeke suksesvol was, al dan nie.

Hammond sê wanneer “pending” by ʼn aansoek verskyn, beteken dit die finale besluit oor plasing is nog nie op die stelsel gelaai nie. Volgens Hammond behoort dit binne die volgende week afgehandel te word.

Ouers het net tot 25 Junie om hul finale keuse van skool vir 2022 te bevestig. Indien hulle dit nie teen dié spertyd doen nie, sal die stelsel outomaties die eerste suksesvolle aanbod van ʼn skool op die stelsel aan hulle toeken.

“Indien ʼn ouer onsuksesvol was by al die skole waar hulle aansoek gedoen het en ná 25 Junie ʼn kennisgewing van ʼn suksesvolle plasing ontvang, het hulle drie dae om die aanbod te aanvaar,” sê Hammond.

Sy sê diegene wat glad nie suksesvol met hul aansoeke was nie, word aangeraai om eers die betrokke skool se beheerliggaam te vra vir redes vir die onsuksesvolle aansoek, duidelikheid oor die aansoekproses te kry en ʼn motivering in te dien oor waarom die aansoek heroorweeg moet word.

“Ouers word aangeraai om in verbinding met die skool te bly en te vra dat ʼn leerder op ʼn waglys geplaas word omdat plekke steeds beskikbaar kan word wanneer ouers bevestig.”

Die departement het ook ʼn beroep gedoen op ouers wat nog nie om plasings volgende jaar aansoek gedoen het nie, om dit dadelik op te volg.

“Hulle moet asseblief hul naaste skole of die distrikskantoor dringend nader. Ons moet verseker dat soveel moontlik leerders vanjaar registreer sodat ons die gepaste beplanning kan doen om alle leerders volgende jaar te plaas.”

Die ma met wie Maroela Media gepraat het, sê sy kan dit nie bekostig om moedeloos te word nie.

“Ek kan dit nie net los nie, maar ek weet ook nie hoe ver sy op die waglys is nie en dit laat my met ʼn groter krisis.

“Ek hoop regtig ons hoor binnekort iets.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Snowball ·

Almal verhuis (vlug?) Wes- Kaap toe, so dis seker logies dat ‘n groter aanvraag na skole gaan ontstaan, maar skynbaar moet alles in SA eers ‘n krisis word voordat iets (hopelik) gedoen gaan word. Skole is landwyd oorvol want strategiese beplanning vir bevolkingsaanwas en volhoubare onderrig was nog nog nooit hoog op die useless regering se prioriteitslys nie.

Ovelia ·

Geen wonder nie.. kyk hoe word skole afgebrand en gesloop en ingebreek om te vernietig. Wat doen ons regering of ministers om di hoofoorsaak aan te spreek?

Aikie ·

Die plasing van ‘n kind in’ n skool was altyd ‘n plaaslike ding en het suksesvol gewerk. Waarom moes die regering hulle vuil kloue in die ding geslaan het? Nou is daar skielik’ n magdom kinders wat nie plek kan kry nie. Die lot maak my moeg.

Francois Le Cochon ·

Skole gebruik ‘n toelatings aansoekvorm om op ‘n subtiele manier die ouers se inkomste te bepaal. Indien dit blyk dat ouers nie 100% skoolgeld sal kan besostig nie, sal hulle moontlik nie aanvaar word nie. In terme van die wet wat skoolgeld afslag bepaal, kwalifiseer ouers wat tesame minder as R600,000.00 pj verdien, alreeds vir afslag bereken op ‘n skoolfonds bedrag van R20,000.00 pj.

koos10 ·

Francios, jy is 100% reg, maar het vergeet om te vermeld dat kwintel 4 en 5 skole (die ou model C ) bykans geen hulp van die staat kry nie, veral die Afrikaanse skole. Dit beteken dat die subsidie wat die ouers kry van die skool af, deur die betalende ouers gesubsidieer word. Daarom maak dit net sin om ouers se finansiele posisie vas te stel, want as geen ouers betaal in die skole nie, gaan die skool heelmoontlik nie finansieel oorleef nie.

annie ·

Met 1 milj geboortes per jaar in SA (+ opportuniste van elders) as ek reg raai, gaan +- soveel leerders die een of ander tyd by skole toegang vra. Maar SA sorg nou vir Kuba eerder as vir sy naaste. Hoeveel skole het ons al daar gebou?

Phil ·

Ook maar ‘n probleem hier in Australie – mense spandeer $miljoene om huis te koop in die buurt wat naby aan die skool is waar hulle wil inkom, party mense trek sommer al as die baba nog klein is. Die stinkryk mense betaal maar vir privaat skool ($80 000 per jaar).
As jy buite die skool zone is waar jy wil inkom gaan jy sukkel om plek te kry.

Francois Le Cochon ·

Daar is reeds lankal weggedoen met “voeding areas”. Skole neem eerder ryk kinders van ‘n ander area in, as arm kinders van die “voeding area”.

Di ·

Hierdie probleem gaan voortduur vir ewig tensy daar minder kinders gebore word. Daar is miljoene matrikulante wat elke jaar klaar maak met skool en daar is net nie werk vir almal. Miskien moet hulle ook ‘n beleid instel soos in China dat elke gesin net 2 kinders mag kry. Glo nie dit sal moontlik wees hier nie, party mense maak kinders op strepe, elke jaar word een gebore.

VaalDonkie ·

Ja nee wat, ons het lankal besluit ons kind sal OF privaatskool toe, OF ons sal haar self by die huis leer. (ons woon ook naby Durbanville). Ek sal maar ‘n ou kar ry en ons sal maar in ‘n kleiner plekkie bly, maar ek gaan nie my kind in ‘n skool sit met kinders wat messteek nie. Want dis wat gebeur: jy kry nie plek hier nie, so jy moet al hoe wyer soek, en gewoonlik is dit net die rowwe skole waar jy plek kry.

Ek was self in so skool en mens kon niks geleer kry nie want dis mos snaaks om die onderwyser uit te tart. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Ek sal die hele situasie probeer vermy en dalk iemand anders ‘n kans gee.

isabelle ·

BOU N SKOOL HIER EN DAAR IN PLAAS VAN DORPS NAME EN STRAAT NAME LINKS EN REGS TE VERANDER

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.