Wes-Kaapse polisie staan nié pa vir optrede by staatsrede

Staatsrede-2015-vlug

‘n Verbyvlug net voor 2015 se staatsrede in Kaapstad. Foto: Kopano Tlape/DoC.

Die Wes-Kaapse polisie kon Woensdag sommige vrae oor hul optrede tydens pres. Jacob Zuma se staatsrede nie beantwoord nie, aangesien dit glo ʼn nasionale aangeleentheid was.

“Aangesien dit ʼn nasionale aangeleentheid was, is daar verskillende rolspelers,” het Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiekommissaris, Woensdag aan Mireille Wenger, DA-LPP en voorsitter van die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid, in die Wes-Kaapse parlement gesê.

Die komitee het Lamoer ontbied om insig en duidelikheid te verkry oor wat die polisie in die parlementêre gebied gedoen het tydens Zuma se staatsrede op 12 Februarie.

Wenger het gesê die komitee moet die nodige vrae aan die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (Natjoints) rig.

Natjoints word belas om alle groot nasionale gebeurtenisse te beveilig en word saamgestel deur die polisie, weermag, metropolisie en intelligensie-eenhede.

Lamoer het gesê hy kan nie enige operasionele inligting bespreek nie omdat die media teenwoordig was.

Wenger het geantwoord dat die provinsiale wetgewer nie die publiek of media mag uitsluit nie, tensy dit redelik en regverdigbaar is om dit te doen. Sy het bygevoeg die doel van die vergadering was dat die provinsiale polisie meer lig kon werp op die polisie se rol op dié dag.

Die komitee het ook vrae gevra nadat Marius Redelinghuys, die party se nasionale woordvoerder, Shaun August, die streekvoorsitter, en twee ander partylede op 12 Februarie kort voor die staatsrede begin het, deur die onlustepolisie in hegtenis geneem is.

Die Kaapstad-landdroshof het verlede week aanklagte van openbare geweld teen dié DA-lede teruggetrek vanweë onvoldoende bewyse.

Lamoer het gesê polisiebeamptes het die mag om iemand in hegtenis te neem as hulle vermoed iemand oortree die wet.

Hy het gesê sy departement sal bewerings ondersoek dat die vier lede vir vier of vyf ure lank in ʼn vangwa rondgery is.

“As enige van my lede oortree het, sal ek teen hulle optree. Ons is steeds besig met ons ondersoek oor wat daar aangegaan het.”

Hy het gesê die DA-lede kan die provinsiale polisie se ombudsman, die openbare beskermer, of die polisie se eie inspektoraat met klagtes nader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.