Wes-Kaapse polisiehoof kry borg

Lt.genl. Arno Lamoer. Foto: www.defenceweb.co.za

Lt.genl. Arno Lamoer. Foto: www.defenceweb.co.za

Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Arno Lamoer (55), is saam met vier ander verdagtes Vrydag op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Lamoer het saam met brigs. Darius van der Ross, Kolindren Govender en Logambal Govender, asook die bekende sakeman Mohammed Salim Dawjee in die Goodwood-landdroshof verskyn.

Brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder, het gesê die vyf het hulself Vrydag aan die Valke oorhandig vir hul beweerde betrokkenheid by korrupte aktiwiteite as deel van ʼn kriminele sindikaat.

Lamoer staan tereg op agt aanklagte van korrupsie nadat hy na bewering geld in sy bankrekening ontvang het en sy klererekening en sekere vakansieakkommodasie deur Dawjee laat betaal het. Hy het ook glo sy private voertuig deur Dawjee laat herstel in ruil vir onwettige gunste. Twee van die aanklagte teen hom het betrekking op sy betrokkenheid by die sindikaat.

Twee aanklagte vir deelname aan die sindikaat asook nege aanklagte van korrupsie is teen Van der Ross gemaak. Hy het glo verskeie belonings ontvang, soos dat sy private voertuig vol brandstof gemaak is, in ruil vir gunste. Van der Ross, wat die bevelvoerder vir die Stellenbosch-area is, staan ook tereg op twee aanklagte vir die onwettige verkoop van ʼn vuurwapen, sowel as een aanklag dat hy onregmatiglik polisielede onder sy bestuur opdrag gegee het om gunste vir Dawjee te doen.

Kolindren Govender, provinsiale hoof van die Wes-Kaapse inspektoraat, en sy vrou, Logambal, stasiebevelvoerder van die Belville-polisiestasie, staan elk tereg op agt aanklagte wat verband hou met die ontvang van onregmatige belonings tot die waarde van R1,2 miljoen elk.

Twee aanklagte vir die onwettige aanbied van belonings aan polisiebeamptes en rampokkery is teen Dawjee aanhangig gemaak. Hy staan ook tereg op agt ander aanklagte wat verband hou met die indiening van vals kwotasies vir werk aan polisievoertuie, geld wat hy ʼn polisiebeampte aangebied het om ʼn ondersoek te kelder en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Dawjee se 27-jarige seun, Zamir, is ook gedagvaar om voor die hof te verskyn omdat twee maatskappye waarvan hy die uitvoerende direkteur is, na bewering betrokke was in die korrupte aksies.

Die saak is tot 12 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

Genl.maj. Benny Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, het gesê hy is hartseer oor die inhegtenisname van senior polisielede, maar het gesê dat die Valke geen steen onaangeraak sal laat om te verseker dat korrupsie in die land hokgeslaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Dis net jammer die Valke volg nie dieselfde reëls as dit by die president kom nie.

Theo ·

So bly daar is nog beamptes wat die leisels stewig probeer hou. Dankie vir julle eerlike opregtheid. Ek saluut julle.

Babs ·

Raak hulle korrup as hulle range kry of het hulle range gekry omdat hulle korrup is. Mooi valke. Doet so voort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.