Wes-Kaapse rade ‘tops’; sommige sukkel tog – verslag

Wes-Kaapse munisipaliteite is onder die bestes in die land. (Argieffoto: Marianne Styan)

Munisipaliteite in die Wes-Kaap – in vergelyking met ander landwyd – is en bly sommige van die beste in die land.

Volgens ʼn verslag van die burgerregtegroep AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering vaar munisipaliteite in die provinsie uitstekend in talle opsigte, hoewel nie almal ewe goed presteer nie. Die oudit ondersoek onder meer die demografie, sosio-ekonomiese toestande, diensleweringskwessies en bestuur van munisipaliteite.

Soortgelyke verslae oor Noordwes, Gauteng en Mpumalanga is reeds bekend gestel. Die Wes-Kaap, een van die land se welvarendste provinsies, word ook die beste regeer, het die verslag bevind.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die sentrum, sê Wes-Kaapse munisipaliteite kan in die algemeen spog oor hul prestasies. “Veral vergeleke met munisipaliteite in die res van die land, is hul drinkwater skoner en meer huishoudings het kraanwater in hul huise. Hoë persentasies huishoudings leef in formele behuising, geniet weeklikse vullisverwydering en gebruik elektrisiteit vir beligting.”

Altesame 14 munisipaliteite het skoon oudits ontvang, bykans ongehoord binne die konteks van plaaslike regering in die land. Nog vyf munisipaliteite het oor die afgelope twee boekjare tot skoon oudits gevorder.

“Dit is nog ʼn seldsame en lofwaardige verskynsel en iets wat hul verbintenis tot aktiewe en verantwoordbare regering wys. Ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes het ook tussen die afgelope twee boekjare aansienlik gedaal,” sê Brink.

Talle van die munisipaliteite het ʼn telling van bo agt uit tien ontvang.

“Plaaslike munisipaliteite soos Witzenberg en Swartland is van die beste in die land en die Kaapstad-metro is verreweg die beste metropolitaanse munisipaliteit. Ons ontledings van ander provinsies se munisipaliteite bewys dit en ofskoon skoon oudits nie noodwendig beteken dat alles vlot verloop nie, is daar wel ʼn sterk verband tussen ouditresultate, goeie bestuur en die gehalte van dienslewering.”

Só lyk situasie in Witzenberg

  • Die munisipaliteit kry ʼn ongekwalifiseerde ouditmening (nes die vorige drie boekjare).
  • 82,2% van mense het toegang tot lopende water in hul huise, 92,4% van inwoners het ʼn spoeltoilet, 94,5% het krag en 87,1% het vullisverwydering.
  • Die munisipaliteit handhaaf ʼn positiewe kontantbalans, hoewel dit sedert vorige jare verswak het.
  • Altesame 5,2% van bedryfsbesteding was ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding.
  • Die werkloosheidskoers staan op 6,7% (2017).
  • Die munisipaliteit behaal ʼn algehele punt van 9/10.

Só lyk situasie in Swartland

  • Die munisipaliteit kry ʼn ongekwalifiseerde ouditmening.
  • 84% van huishoudings het toegang tot lopende water in hul huise, 86,2% van mense het ʼn spoeltoilet, 98,7% het elektrisiteit en 83,5% van huishoudings het weeklikse vullisverwydering.
  • Die munisipaliteit handhaaf ʼn positiewe kontantbalans wat die afgelope paar jaar boonop verbeter.
  • Altesame 2,7% van die bedryfsbesteding was ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding.
  • Die werkloosheidskoers staan op 14% (2020).
  • Die munisipaliteit behaal ʼn algehele punt van 9/10.

Brink sê daar is desondanks ook uitdagings by sommige van die munisipaliteite.

“Die Kaapstad-metro het nie ʼn skoon oudit behaal nie en het R669 miljoen aan onreëlmatige besteding aangegaan. Die ouditeur-generaal (OG) het ook uitgewys dat die provinsie se munisipaliteite oor goeie finansiële beheermaatreëls beskik, maar nie oor voldoende voorkomende beheermaatreëls wat voldoening aan wette en regulasies betref nie.”

Só lyk situasie in Kaapse metro

  • Die metroraad kry ʼn ongekwalifiseerde ouditmening, maar met sekere bevindings.
  • 76,7% van huishoudings het toegang tot lopende water in hul huise, 91% van mense het ʼn spoeltoilet, 97,2% het elektrisiteit en 87,8% van huishoudings het weeklikse vullisverwydering.
  • Die metro handhaaf ʼn positiewe kontantbalans en het ʼn effense verbetering sedert die vorige jaar getoon.
  • Ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding het in die 2018-’19-boekjaar 2,7% beloop.
  • Die metro behaal ʼn algehele punt van 8/10.

Brink sê daar bestaan wel kommer oor groot bedrae geld wat nie meer ingevorder kan word nie en die langtermynvolhoubaarheid van sommige munisipaliteite in gedrang plaas.

“Die OG het Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg vir ingryping uitgesonder en dié plekke het ook om verskeie redes swakker tellings in die verslag ontvang.”

Só lyk situasie in Beaufort-Wes

  • Die munisipaliteit kry ʼn ongekwalifiseerde ouditmening, hoewel sommige bevindings gemaak word.
  • 77,9% van huishoudings het toegang tot lopende water in hul huise, 95,3% van mense het ʼn spoeltoilet, 96% het elektrisiteit en 91,7% van huishoudings het weeklikse vullisverwydering.
  • Die munisipaliteit het ʼn negatiewe kontantbalans.
  • Ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding beloop ʼn astronomiese 256,2% van bedryfsbesteding.
  • Die munisipaliteit behaal ʼn algehele punt van 6/10.

Só lyk situasie in Kannaland

  • Die ouditeur-generaal se verslag is uitstaande.
  • 87% van huishoudings het toegang tot lopende water in hul huise, 71,1% van mense het ʼn spoeltoilet, 91,9% het elektrisiteit en 79,2% van huishoudings het weeklikse vullisverwydering.
  • Die munisipaliteit handhaaf ʼn positiewe kontantbalans, maar verswak sedert vorige jare.
  • Ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding beloop 10,7% van bedryfsbesteding.
  • Die munisipaliteit behaal ʼn punt van 5,5/10.

Só lyk situasie in Laingsburg

  • Die ouditeur-generaal se verslag is uitstaande.
  • 56,5% van huishoudings het toegang tot lopende water in hul huise, 82,7% van mense het ʼn spoeltoilet, 88,8% het elektrisiteit en 79,5% van huishoudings het weeklikse vullisverwydering.
  • Die munisipaliteit se kontantbalans is wisselvallig van jaar tot jaar, maar is tans positief – ʼn verbetering sedert die vorige boekjaar.
  • Ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende besteding beloop amper ʼn derde (31%) van bedryfsbesteding.

Morné Mostert, bestuurder vir plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê gegewe die algehele verval van munisipale dienste landwyd, is dit duidelik dat daar in sommige munisipaliteite steeds die politieke wil bestaan om dienste werklik volhoubaar te lewer.

“Ons sien dat hierdie dienste oorwegend meer in die Wes-Kaap plaasvind. Daarom sal AfriForum steeds voortgaan en het ons ʼn rol om te speel binne die gebied om te verseker dat daar voortdurend sodanige dienste op hierdie vlak gelewer word. Ons moet egter ook toetree en kyk hoe ons saam met die onderskeie regerings kan werk om te verseker dat gemeenskappe se belange beskerm word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herman ·

Die DA betaal seker vir die advertensie en die menings uitgespreek in die artikel is nie die mening van mm nie.

Frik ·

Stem VF Plus om die verval van munisipaliteite te stop en help VF Plus sodat meerderheid munisipalitete suksesvol kan word.

Moedeloos ·

Ou Frik met die lawaai wat VF + die afgelope week in ons strate op en af ry met luidsprekers wat oorverdowend is en musiek speel asof almal rondom hulle doof is, het hul my X verloor.

Elmarie ·

Hoe iemand hierdie ‘n “advertensie” van die DA kan noem gaan my verstand te bowe. Was twee keer afgelope 3 maand ein die Kaap en dinge wikkel. Daar is opgradering van paaie aan die gang met nuwes wat gebou word vanaf Hermanus na Gansbaai se kant toe, dis meestal skoon orals en dis goed om te sien wat met belastinggeld gedoen word. En gee my maar afduimpies dis wat ek self gesien het!

Janneman ·

Ek stem saam. Dinge gebeur in die weskaap. En mens kan duidelik sien waar belastinggeld bestee word. Goeie werk DA.

Snowball ·

Ek stem saam Elmarie. Hermanus lyk goed. Kaapstad is skoon. Vullisverwydering in Vermont was bv op tyd, op die bepaalde dag. Kon nog nooit kla oor dienslewering daar nie, daarenteen is Kempton kort-kort ‘n nagmerrie.

Willem ·

Die padwerke tussen Hermanus en Gansbaai duur al meer as twee jaar. Ek weet, want ek woon in Gansbaai en moesy dogter in 2018 hermanus hospitaal toe neem. Lank by altwee stop/go’s gestaan en wag. 2019 was dieselfde toe my ma moes hospitaal toe. Dis tyd dat dit voltooi word.

Baardman ·

Skoon oudit is nie iets om oor te “brag” nie, dis ‘n VEREISTE. Help ook nie jy kry n skoon oudit en jou dorp se paaie val uitmekaar nie. Dit beteken die geld word nie reg aangewend nie. Ons munisipaliteit se lone en salaris rekening beloop 40% van die totale begroting (met skoon oudit). Jammer om te sê, maar die DA stel ook maar lekker onbevoegde familie en vriende aan in die munisipaliteit. Dis hoekom ander partye setels moet kry, om weer balans te kan handhaaf en die regte vrae vra op die rade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.