Wes-Kaapse regbank val uitmekaar

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Terwyl die wêreld fokus op die bevegting van die koronavirus, is die Wes-Kaapse regbank besig om skade te ly wat op die oog af onherstelbaar is.

Meer as die helfte van die Wes-Kaapse hooggeregshof se 27 regters is nou betrek by die stryd rondom die voortgesette teenwoordigheid van regter John Hlophe as regterpresident van die Wes-Kaap.

Luidens ʼn berig van Daily Maverick het tien regters gister beëdigde verklarings ingedien ter ondersteuning van adjunk-regterpresident Patricia Goliath se klagte voor die regterlike dienskommissie (RDK) dat Hlophe na bewering ʼn regter in sy kantoor aangerand het.

Die naam van die regter Mushtak Parker word in die verklarings genoem as die regter wat na bewering deur Hlophe aangerand is.

Een van die vele probleme wat die herstel van die Kaapse regbank op die oog af onmoontlik maak, is dat Parker nou beweer die aanranding het nie gebeur nie, maar nou het dit aan die lig gekom een van sy kollegas het glo ʼn beëdigde verklaring by Parker afgeneem direk ná die beweerde aanranding waarin Parker in die fynste besonderhede vertel hoe die beweerde aanranding wel gebeur het.

Soos regter Dennis Davis in sy verklaring aandui, laat dit die RDK voor die posisie dat een van die volgende twee dinge gebeur het: Hlophe het Parker aangerand, wat ʼn kriminele oortreding is, of Parker het meineed gepleeg deur te lieg (dit sou eweneens onwettig wees), of albei het gebeur.

Maar dit is nie die einde van die gemors nie.

In regter Mark Sher se verklaring sê hy Parker het daarna vergader met regters Taswell Papier en Mokgoatji Dolamo, en dat hulle hom oortuig het dat hy liewer nie met die aksie teen Hlophe moet voortgaan nie.

As dit so is, moet die RDK ook teen Papier en Dolamo optree – en ernstig optree.

Samevattend dus is 16 Wes-Kaapse regters tans by die geskil betrek: Die tien regters wat Donderdag gekla het, is betrokke asook regters Goliath (wat die klag gelê het), Hlophe, Parker, Papier, Dolamo en laastens regter Gayaat Salie-Hlophe, wat met Hlophe getroud is en geïmpliseer word in Goliath se klagte.

Boonop het die organisasie Freedom Under Law by monde van oudregter Johann Kriegler druk op hoofregter Mogoeng Mogoeng geplaas om spoedig op te tree, wat beteken die krisis op die Kaapse regbank beweeg al nader aan die pylvak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Venter ·

Wat ‘n skande – dank die héle spul af, hulle het geen, maar geen intergriteit nie, als net eiebelang!

Die woorde van Hoofreigter Mogoeng van die Grondwethof refrein in my kop … “hoe het ons tot hiér gekom?”

Maar dit moet almal, élkeen van hulle, hulself afvra.

Pieter ·

Indien die regters self so oneerlik is, hoe des te meer hul verhore en uitsprake. Dit maak die regstelsel en regsberorp ongeloofwaardig.

Nie Verbaas ·

Dit is wat gebeur as nog niks aan klagtes van 2012 gedoen is nie.

Pieter J ·

Hierdie probleme sal net opgelos word as daar van Hlophe ontslae geraak word. Hy moes in die eerste plek nie in daardie pos aangestel gewees het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.