Wes-Kaapse regering plaas dadelik druk op De Lille

Patricia de Lille saam met pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Twitter

Sommer al op haar eerste dag as minister van infrastruktuur en openbare werke het mense uit Patricia de Lille se verlede kwaai druk op haar geplaas toe haar oudkollegas haar aan ʼn paar van haar ondernemings as Kaapse burgemeester herinner het.

De Lille het naamlik, toe sy burgemeester van Kaapstad was, telkens by die nasionale departement van openbare werke aangedring dat vyf groot, plat stukke grond wat aan die nasionale regering behoort oorgedra moet word aan die stad of provinsie sodat bekostigbare behuising daar gebou kan word.

Noudat sy minister van openbare werke is, kan sy mos opdrag gee om dit te doen, se die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.

Die vyf gebiede is die Culemborg-spoorweggrond tussen die N1 en die Kaapse middestad, die lugmagbasis Ysterplaat, wat eweneens naby die middestad geleë is, die lugmagbasis Wingfield naby Goodwood, die Youngsfield- militêre terrein by Wynberg en grond tussen Khayelitsha en Strand wat aan die wapenvervaardiger Denel behoort.

Winde het De Lille daaraan herinner dat dit genoeg grond is om 100 000 behuisingseenhede op te rig en die behuisingsagterstand in Kaapstad ʼn bepalende knou te gee.

Wat ander kabinetsaanstellings betref het Winde sy teleurstelling uitgespreek met die behoud van genl. Bheki Cele as minister van polisie, want die Wes-Kaap het geen goeie verhouding met hom gehandhaaf nie.

Winde het ʼn ontmoeting met die nuwe minister van vervoer, Fikile Mbalula, aangevra, en gesê hy hoop hy bring ʼn bietjie oemf na die portefeulje.

Wat die nuwe minister van minerale en energie, Gwede Mantashe, betref, het die Wes-Kaapse premier gesê die geïntegreerde hulpbronneplan, wat dit onder meer makliker sal maak vir onafhanklike elektrisiteitsvoorsieners om te funksioneer, moet dringend van krag gemaak word.

Voorts wil die Wes-Kaap hê Mantashe moet regulasies uitvaardig sodat munisipaliteite regstreeks kan krag koop by onafhanklike kragvoorsieners, en hy moet dit moontlik maak om vloeibare petroleumgas deur die hawe van Saldanhabaai in te voer sodat die Wes-Kaap self goedkoper energie kan verskaf.

Winde het voorts die prestasiemonitering van ministers verwelkom, en Ramaphosa uitgedaag om sy ministers aan forensiese leefstyloudits te onderwerp, soos reeds in die Wes-Kaap die gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ellisras ·

Karma het ‘n manier om jou te byt. Dit is maklik om altyd ‘n ander regering sfeer te blameer, en skierlik is jy die minister by wie daar aangeklop word,

Attie. ·

Onse oulik en slim president het ‘n oulike en slim plan met Patricia. Niks keer haar nou om die Kaap vol huise te bou vir al die arm mense nie en in 2024 neem die ANC die Kaap oor en word Patricia dalk vereer as die een wat die Kaap oorgedra het aan die ANC. Daar is genoeg ANC kiesers in die Kaap, Patricia en Cyral moet hulle net by die stembusse kry. Lyk my die Kaap loop op dun ys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.