Wes-Kaapse regering verklaar dispuut met Cele

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die Wes-Kaapse regering het ’n formele dispuut met Bheki Cele, minister van polisie, verklaar oor die tekort aan polisiehulpbronne wat aan die provinsie toegewys is, het Alan Winde, DA-premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Sondag gesê.

“In my hoedanigheid as die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid en soos deur die Wes-Kaapse kabinet gemagtig, het ek aan Cele geskryf om hom in kennis te stel dat die Wes-Kaapse regering ’n formele interregeringsdispuut met die minster van polisie verklaar,” het Winde gesê.

Dít volg ses maande nadat die Wes-Kaapse regering die eerste keer aan Cele geskryf het met ’n lys van dringende polisiëringsbehoeftes en -prioriteite vir die provinsie, wat Cele bloot geïgnoreer het. Volgens Winde het die minister versuim om op dringende versoeke te reageer, selfs ná ’n opvolgbrief in Desember en ná die brief in Februarie persoonlik aan president Cyril Ramaphosa in die parlement oorhandig is, het hy gesê.

Ingevolge die Grondwet moet Cele van die bepaalde behoeftes van die provinsie kennis neem en samesprekings daaroor voer. Deur hierdie behoeftes en prioriteite bloot te ignoreer, het Cele die Grondwet oortree.

“Ons provinsie kort dringend meer polisiebeamptes. Die Wes-Kaapse polisie het hopeloos te min hulpbronne in vergelyking met ander provinsies. Hoewel een polisiebeampte gemiddeld 375 mense landwyd moet beskerm, is dié verhouding in die Wes-Kaap een tot 509. Dit maak my kwaad dat die nasionale ANC-regering minder hulpbronne aan ons provinsie toewys om misdaad te beveg as aan ander provinsies,” het Winde gesê.

Die premierskandidaat het gesê die Wes-Kaap het dringend meer personeel nodig om die provinsiale polisiekommissaris in staat te stel om die nodige stappe te doen om bendegeweld en die hoë moordsyfer hok te slaan, asook om leerders, skole, openbare vervoer en infrastruktuur soos ambulanse te beskerm.

Die Wes-Kaapse provinsiale polisie-ombudsman se ondersoek na die Suid-Afrikaanse Polisiediens se reserviste het tot die gevolgtrekking gekom dat “daar ’n beduidende afname in die aantal aktiewe polisiereserviste tussen 2008 en 2018 was” en dat “die afname in die totale aantal reserviste wat oor naweke beskikbaar is, ’n direkte impak op die doeltreffendheid van die SAPD in die Wes-Kaap het”.

Die Wes-Kaap het ook aangebied dat vrywilligers van die provinsiale regering  administratiewe pligte by polisiestasies behartig sodat polisiebeamptes eerder kan patrolleer.

Volgens Winde het Cele dié aanbod geïgnoreer en nie op die provinsie se dringende polisiëringsbehoeftes en -prioriteite gereageer nie.

“Die Wes-Kaapse regering het dus geen ander keuse nie as om formeel te verklaar dat die minister geweier het om op die mededeling van die polisiëringsbehoeftes en -prioriteite van die provinsie te reageer, soos in Oktober 2018 aan hom oorgedra is.

“Hy het ook geweier om aandag aan die polisiëringsbehoeftes en -prioriteite van hierdie provinsie te gee ingevolge die bepaling van die nasionale polisiëringsbeleid en het versuim om te reageer op proaktiewe aanbieding van hulp en finansiering wat deur die Wes-Kaapse regering gedoen is,” het Winde gesê.

Cele word nou verplig om dringend met die Wes-Kaapse regering te ontmoet en op dié beskuldigings te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Stebastiaan ·

Hierdie manier van doen is nie Cele se skuld alleen nie dit is die hele anc wat hierby betrokke is. En die rede glo ek is om die Weskaap onregeerbaar te maak en mense na die anc te laat draai. Hulle is almal korup en agterbaks. Kyk maar net na hulle president.

Karolis ·

Baie goeie punt. Ek het dieselfde gedink terwyl ek die berig gelees het.

Hansie Slim ·

Nog ‘n papwiel aan die wa met ‘n groooot hoed. Dit gaan tyd vat…..

Andreas ·

Dus, moet ons nou gemiddeld 375 mense bymekaar maak en langs ‘n polisieman gaan staan?

Nienie ·

Mooi so. Dwing hom met d Grondwet om sy pligte as minister na te kom. Dis hoog tyd dat ministers in persoon verantwoordelik gehou word om hul pligte na te kom.

willem botha ·

Die wes Kaap kan n referendum hou en hulle eie land proklameer hulle kan hulle self regeer soos n onafhanklike staat,en volgens die grondwet kan enige provinsie wat n party met n meerderheid wen dieselfde doen.

humor ·

Onbevoegdheid plus n stewige skeet moetswilligheid, n gebrekkige verantwoordelikheidsbesef en n aangekweekte grootheidswaan is n dodelike resep vir volmaakte mislukking

Sarel ·

Ware aaa en cee dienslewering. Dit bly maar gering waar hulle nie is nie. Sal seker meer kop uitsteek na 8 mei.

schaun ·

Dit is hoekom ons so sukkel 1 polisieman vir 375 mense,neem nou in ag die korrupte polisie, lui en die wat nie kan lees of skryf nie dan verander die radio seker na 1 polisieman vir elke 5 miljoen mense.

Sarel ·

Polisiemanne… daardie 1 per 375 sluit sekerlik die admin en bevel stukture in. Nou vir elke een om te werk is daar n bevelvoerder, verlof en admin. Takties kan dit dan 1 polisieman ontplooi per 1125 mense wees. Dan is lyk dit steeds minder as die polisiemanne op ons dorp wat besig is om te polisieer… ek nog iets gemis dalk

Charlie ·

Wat kan ek sê nadat ek die berig gelees het.
Pragtig, mooi so.
Kry vir jou Mnr Cele – doen vir n verandering jou plig.

Pieter du plessis ·

Ek verstaan nie daar is wette in plek en daar is hordes wat rondloop in blou uniforms en hulself polisie noem maar steeds is die kriminele in beheer het die klomp geen trots en selfrespek om te besef net hulle kan n verskil maak.

Markus ·

Die polisiestasie moet mense aanstel wat van die omgewing is ,die rekrute sal meer aandag skenk want dit is hulle buurte waar hulle sal werk.

Veritas ·

Goeie voorstel Markus. Dit sal ook die onnodige vervoerprobleme uitskakel.

Hanna Hoekom ·

As ou Cele dan nie gehoor wil gee nie, vat dan asb al jul miljoene ANC ondersteuners uit die Ooskaap )en ander ANC provinsies) terug. Dit sal nie moeilik wees om hulle van die ander wetsgehoorsame burgers te onderskei nie… Probleem opgelos!

Annie Webb ·

As meer dienste na provinsies afgewentel word, sal die Kaap van krag tot krag gaan. Mits die DA aan bewind bly, natuurlik.

Boerin ·

Scary!!! 1 onbevoegde polisieman vir 375 burgers as beskerming ! Kan nie eers die eenvoudigste take verrig nie…verklaring afneem,wapen beveilig opdaag by misdaad toneel nie .Dis hoekom daar elke dag moord en verkragting is,die misdadigers weet presies hoe dit gaan !Mag God ons help !

Johan ·

Die ANC regering voel vere vir mense se veiligheid in die land, en wil nie eens die Wes-Kaapse regering toelaat om iets daaraan te doen nie. Tipies!

sweis ·

Bheki Cele het nie n idee van polisie werk nie die manne wat in hierdie posisie gekies word moet ten minste deur die opleiding kollege kom en gewoonweg op merriete en akademiese kwalifikasies deur die range gegaan het .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.