Wes-Kaapse sensusopname verleng

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Stats SA/Facebook)

Wes-Kapenaars wat nog nie aan die 2022-sensusopname deelgeneem het nie, het nou tot 31 Mei kans om dit te doen.

Alan Winde, premier van dié provinsie, sê dit is uiters belangrik dat inwoners deelneem sodat die provinsie sy regverdige deel van die nasionale begroting kan ontvang.

Maroela Media het vroeër berig dat die aanvanklike sperdatum Saterdag 14 Mei was. Teen dié tyd was die aantal mense wat in die Wes-Kaap aan die sensus deelgeneem het steeds ver onder die gemiddeld van die res van die land.

“Teen die huidige koers, met net 70% van die provinsiale bevolking getel, sou dit nie moontlik wees vir Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) om die sensus in die Wes-Kaap af te sluit nie.

“Daarom verwelkom ek die aankondiging deur die statistikus-generaal van StatsSA, wat vir hierdie projek verantwoordelik is, dat die telling in die Wes-Kaap tot 31 Mei 2022 verleng sal word,” het Winde in ʼn verklaring gesê.

Winde meen dit is die enigste haalbare manier waarop soveel as moontlik inwoners getel kan word sodat die provinsie “sy regverdige deel van die nasionale begroting kry”.

“As net 70% van die inwoners by die 2022-sensus getel word, kan die Wes-Kaap befondsing gelykstaande aan 1 615 dokters of 5 981 verpleegsters verloor, en meer as 9 300 onderwysers. Dit is volgens benaderde projeksies deur die provinsiale tesourie.

“In begrotingsterme gaan ons R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van ons provinsiale regverdige aandeel. Dit sal R2,6 miljard se finansiering van ons gesondheidsbegroting en R4,2 miljard van ons onderwysbegroting wegneem, met kleiner departemente wat ook verliese sal ly.”

Winde meen dat dienslewering in die algemeen ʼn knou sal kry as inwoners nie seker maak hulle word getel nie.

“Aan dié van julle wat dit nog nie gedoen het nie, gebruik asseblief hierdie verlenging om te verseker dat jy en jou huishouding getel word. Ons moet almal ons rol speel sodat kardinale dienste soos skole en gesondheidsorgfasiliteite aanhou werk.”

Wes-Kapenaars word aangemoedig om die sensusvraelys aanlyn te voltooi, die inbelsentrum by 0800 110 248 te bel of die vraelys te voltooi wanneer ʼn besoek deur StatsSA afgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Die kamma-sensusopname kan die regering rerig maar stop. Baie wil nie getel word nie, ander word oor en oor getel en ander se tellers sit en wag iewers dat die dag verby gaan. Soos alles wat die ANC aanpak is hierdie projek ‘n dwarrel op ‘n afgebrande stuk aarde… As en roet en grootgewag.

Jaco ·

Bitter moeilike keuse:
1. Neem nie deel nie en daars minder munisipale dienste oor ‘n jaar of twee.
2. Neem wel deel en al my besonderhede word oor ‘n jaar of 2 dadelik vir radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding gebruik.

miche ·

Ek wonder hoe akkuraat hierdie hele proses is?
Die Sensus-personeel het my by my huis kom besoek maar ek ontvang Steeds sms’e dat ek die Sensus-vraelys aanlyn moet voltooi.

Lourens CFG ·

Hoe kan dit wees dat, volgens die sensus mense, net die Wes Kaap se opnames swak is?
Is die ander provinsies 100% getel?
Wat van byvoorbeeld die Oos Kaap waar die mense uitgestrek in uiters moeilike bereikbare tereine bly, is hulle almal getel?

VaalDonkie ·

Ek wag nou nog vir die mense met die groen baadjies om hier te kom aanklop.

Samuel ·

Ek weet darem nie of dit net die inwoners in Wes-Kaap se skuld is nie. Ek het in Februarie reeds my e-Sensus vorm voltooi en verlede week Donderdag, het die sensusopnemer eers in ons straat gewerk. Hoe nou?

Doors ·

Dis vir my totaal onaanvaarbaar dat die inwoners van die Wes-Kaap nou verantwoordelik gehou word vir die sukses van die sensustelling! Dis die departement se verantwoordelikheid, dis hý wat ‘n spul totaal onbevoegde mense aangestel het. Die Wes-Kaap moet dit net eenvoudig níe aanvaar nie!

Theo ·

Stem volkome saam. Wie hou die sensus? Die regering of die inwoners? Ons moes omtrent moeite doen om die sensusopnemer wat in ons straat op en af gedrentel het met sy tabletrekenaar sover te kry om ons te kom tel. Die vrae wat hy ons gevra het ook nie veel sin gemaak nie. Wat ‘n treurige spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.