Wes-Kaapse skole afgelope vakansie kwaai geplunder

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ten spyte van beduidende pogings om Wes-Kaapse skole tydens die Desembervakansie te beveilig was daar selfs meer voorvalle van diefstal of plundering die afgelope vakansie by skole in die provinsie as in die vorige jaar.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het Vrydag gesê dat 42 skole oor die afgelope skoolvakansie besteel of gevandaliseer is.

David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, sê altesame 48 voorvalle van inbraak en vandalisme is in Desember verlede jaar en Januarie vanjaar by skole aangemeld. Dit is ʼn toename van die 41 voorvalle wat in Desember 2021 aangemeld is.

Boewe ontsien oënskynlik niks nie en items wat beskadig of weggedra is, sluit in enigiets van badkamertoebehore en waterpype en -meters, tot dreinbedekkings, heinings, vensters, deure, rekenaars, IT- en oudiovisuele toerusting, kabels, ligte, elektriese toerusting, kombuistoebehore, gereedskap, fietse en tuingereedskap.

Selfs items soos toiletpapier en vullissakke is gebuit.

Die departement het subsidies vir veiligheidsmaatreëls by 439 skole provinsie betaal in ʼn poging om die plundering te stuit.

“Nie eens ʼn omheining, veiligheidswagte en kameras was genoeg om misdadigers te keer om ons kinders se onderrig te saboteer nie,” sê Maynier.

Die algehele koste van herstelwerk en die vervanging van gesteelde eiendom word nog bereken.

“Dit is teleurstellend dat ons departement en skole nou weer eens geld sal moet herlei wat bestee kon word aan die onderwysbehoeftes van ons leerders om vir hierdie onnodige uitgawes te betaal.”

Inhegtenisnemings is ná sommige van die voorvalle gedoen en Maynier sê die departement gaan vordering met die sake fyn dophou.

Die departement het ook ʼn beroep op mense gedoen om enige verdagte bedrywighede by skole aan te meld deur die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel of die Safe Schools-blitslyn by 0800 45 46 47.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Vervloekte ANC / EFF lede! VF+ lede sal nooit so iets aanvang nie!

Kokerboom ·

Gemeenskappe sal toenemend self na hul skole moet omsien

Elma ·

Julle moet afstig, dan sal daar nie hierdie dinge in die Wes-Kaap plaasvind nie

Reinette ·

Die land gaan nooit so reg kom nie.. Die hele land is ‘n Ashoop.. Af gebreek.. Alles is net te vervalle… Of bankrot!!!????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.