Wes-Kaapse skole Maandag al geëvalueer

Argieffoto

Die Wes-Kaapse departement van onderwys se beplande onafhanklike evaluasie-owerheid (SEA) sal Maandag begin om die eerste skole te evalueer. Die departement beoog om 50 Wes-Kaapse skole vanjaar te evalueer en ʼn onpartydige verslag op te stel. Die doel van dié verslag is om probleemareas in skole te identifiseer en die nodige ondersteuning aan skole te verleen om die gehalte van onderwys te verbeter.

“Die departement wil veral die onderwysers se prestasies evalueer en ook bepaal watter onderwysers deurlopend afwesig is, of se werk nie volgens standaard is nie,” sê die Wes-Kaapse departement van onderwys.

Die onpartydige verslag sal aan die betrokke skole se skoolhoof, beheerliggaam, distrikshoof en die provinsiale minister van onderwys, voorgelê word. Die verslae sal ook aanlyn gepubliseer word om die deursigtigheid en verantwoordbaarheid van die stelsel te verseker.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het dié onafhanklike evaluasie-owerheid verwelkom. “Daar is duidelik ʼn verband tussen die akademiese prestasie van leerders en die aanwesigheid van onderwysers in skole,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se verslag in Maart oor Suid-Afrika se sukkelende onderwysstelsel skryf die beroerde toestand van onderwys ook toe aan die hoë afwesigheidsyfer, min werksure en nog minder vakkennis van onderwysers. Volgens die IMF mis Suid-Afrikaanse onderwysers gemiddeld 11% onderrigtyd weens afwesigheid; 20% van onderwysers is op Maandae en Vrydae afwesig en 33% van onderwysers is afwesig oor maandeinde.

“Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het self verlede jaar erken dat die swak toestand van onderrig in openbare skole die gevolg is van afwesige onderwysers. Sy het egter nog geen stappe gedoen om oplossings vir dié probleem te vind nie,” sê Buys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niné ·

Hoeveel statestieke wil Angie he voor sy iets konkreets gaan doen. Dis alles geld mors.

Sarel ·

Hoekom Weskaap. Begin by Gauteng waar julle Sofi se droog maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.