Wes-Kaapse skole wil self krag opwek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Meer as 40 skole in die Wes-Kaap het aansoek gedoen om sonkrag te installeer sodat hulle self elektrisiteit vir hul onderskeie skole kan opwek.

Die gekombineerde opwekkingskapasiteit van al 41 skole sal altesaam 25,87 MWp (megawatt peak) beloop. Die koste hieraan verbonde word egter op meer as R46 miljoen geraam.

Desnieteenstaande het die plaaslike minister van onderwys, David Maynier, dié stap verwelkom.

“Ons is daartoe verbind om alles in ons vermoë te doen om ons skole te ondersteun om hul energieverbruik te verminder, en sien daarna uit dat ander skole ook die inisiatief sal neem om ons land se energiekrisis te takel,” lui die departement se verklaring.

Die toevoeging van sonkrag by skole help nie net om hul omgewingsimpak te verminder nie, maar ook om jaarliks duisende rand aan elektrisiteitsuitgawes te bespaar.

Maynier sê die meerderheid van hierdie inisiatiewe word deur die skool se beheerliggaam self gefinansier of deur huurooreenkomste wat met sonkragmaatskappye aangegaan word.

“Ons ondersteun hierdie beleggings deur ons skole ten volle.”

Tamboerskloof Primary School in Kaapstad het reeds ʼn batterybergingstelsel laat installeer om sy ligte tydens beurtkrag aan te hou.

Altesaam 25 skole het boonop hul bestaande gloeilampe met energiebesparende LED-gloeilampe vervang wat met behulp van ʼn loodsprojek met die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is.

“Die departement het 40% van die finansiering vir hierdie projek in die 2021-’22‑ finansiële jaar voorsien. Die vervanging van gewone gloeilampe met LED-gloeilampe kan nou tot ʼn jaarlikse besparing van tot R36 000 vir elektrisiteit per skool lei,” sê Maynier.

“Ná die sukses van die loodsprojek is ʼn lys van 100 skole geïdentifiseer wat by hierdie soort ingrypings kan baat. Die departement het reeds 25 skole hiermee bygestaan en hoop om die projek teen einde Oktober na ander skole uit te brei.”

Volgens die departement ontvang skole reeds LED-gloeilampe wanneer gloeilampe tydens geskeduleerde instandhoudingsprojekte vervang word. Nuutgeboude skole maak ook van LED-beligting gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Prikkie ·

Eskom gaan binnekort niemand meer hê om krag by hulle aan te koop nie.

Hulle is immers die enigste vervaardigingsaanleg wat mense soebat om nie hul produk te koop nie.

Jaco ·

DA-beheerde skole gaan sonkrag opwek en dan deur DA-beheerde munisipaliteite met extra belasting/”boetes” gestraf word omdat hulle nie meer eskom krag deur die munisipaliteite koop nie. Lekker absurd.

christo ·

Die grootste kragverbruik by skole vind bedags plaas. Skole wat sonpanele gebruik, gebruik dit in ‘n hibriede sisteem, aangesien húlle nie ten volle net op sonenergie kan staatmaak nie. Eskom of stadsrade hou nog steeds die infrastruktuur instand wat gewone elektrisiteit aan die skool voorsien. In die langer duur verminder die gebruik van sonenergie wél die Eskom of Munisipale kragverbruik rekening.
Daar moet besef word dat provinsiale onderwysdepartemente ook in hulle begrotings ‘n toewysing het vir munisipale dienste, wat elektrisiteit insluit.
Eskom krag gaan nié goedkoper word nié.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.