Wes-Kaapse skoolkoor presteer op buitelandse koorfees

Die Stellenberg Meisieskoor (Foto: Verskaf)

Hoërskool Stellenberg se talentvolle Stellenberg Meisieskoor het vroeër vandag triomfantelik van Indonesië teruggekeer waar hulle pas op die agtste Bali Internasionale Koorfees as die wenners in die tienerkategorie aangewys is.

Dié koor van Bellville in die Wes-Kaap het behoorlik rede om te glimlag.

Die Stellenberg Meisieskoor, ook bekend as die “Stellies Angels”, was Vrydagaand een van 102 koorgroepe van 15 lande reg oor die wêreld wat in Bali byeengekom het om hulle staal te wys.

Dié meisieskoor het onder leiding van Susan du Plessis, die koorbestuurder, en André van der Merwe, die koorafrigter, vir die kategorieë “Teenagers” en “Musica Sacra” ingeskryf.

Hoewel die meisieskoor ʼn goue medalje in die “Teenagers”-kategorie verower het, was dit ʼn naelbyt-stryd tussen hulle en ’n koor van Spanje vir die eerste plek in die “Musica Sacra”-kategorie. Stellenberg Meisieskoor het in dié kategorie in die tweede plek geëindig.

Die Stellenberg Meisieskoor (Foto: Verskaf)

Riana Joubert, ʼn ouer van een van die koorlede, vertel trots die Stellenberg Meisieskoor was die enigste koor van Suid-Afrika wat teen universiteitskore moes meeding.

Die talentvolle groep meisies het nie net weggestap as kategoriewenner nie, maar het ook saam met 13 ander kore na die Grand Prix-eindronde deurgedring wat Saterdag in Bali plaasgevind het. ʼn Koor van Spanje is uiteindelik as algehele wenner vir die kompetisie aangewys.

Die Stellenberg Meisieskoor bestaan uit 102 meisies van graad 8 tot 12. Slegs 95 meisies het egter aan dié kompetisie deelgeneem.

Joubert vertel dat die meisies baie hard werk en tyd in hulle besige programme moes inruim om te oefen. “Dis veral te danke aan die meisies se toewyding, selfdissipline en ongelooflike harde werk dat hulle só op internasionale vlak kon presteer,” sê Joubert.

Joubert praat met groot lof van Van der Merwe as koorafrigter. “André van der Merwe is ʼn briljante koorafrigter. Die ongelooflike vaardigheid, motivering en kreatiwiteit waarmee hy die koor afrig, is vir ons as ouers ʼn groot voorreg,” vertel Joubert.

Die Stellenberg Meisieskoor is ook in 2017 op die internasionale Johannes Brahms-koorkompetisie in Wernigerode, Duitsland, as die wenners van die kompetisie aangewys.

“Ons is ongelooflik trots op die meisies. Hulle is ware ambassadeurs vir ons land,” sê Joubert.

Familie en vriende het vandag die meisies met ballonne, Suid-Afrikaanse vlae, blomme en baniere op Kaapstad se internasionale lughawe ingewag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.