Wes-Kaapse speaker geskors

Masizole Mnqasela

Die DA se provinsiale uitvoerende komitee in die Wes-Kaap het besluit om die Wes-Kaapse regering se speaker van alle party-aktiwiteite te skors hangende ’n ondersoek teen hom.

Jaco Londt, provinsiale voorsitter van die DA, sê die besluit om Masizole Mnqasela te skors is gegrond op die bevindinge van ʼn ondersoekverslag deur die DA se federale regskommissie.

Luidens die verslag lyk dit of daar moontlik waarheid steek in die bewerings dat Mnqasela bedrog en/of korrupsie gepleeg het ten opsigte van eise vir verblyf-, reis- en onthaaltoelae.

“Mnr. Mnqasela is die geleentheid gebied om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie, wat hy gedoen het. Die party het egter na deeglike oorweging besluit om oor te gaan tot skorsing,” sê Londt.

’n Ondersoek is onlangs na Mnqasela gelas nadat verdoemende dokumente van fluitjieblasers ontvang is. Die dokumente is intussen aan die Valke oorhandig.

Volgens Londt mag die party nie inmeng by die prosesse van enige van die regerings- óf eksterne ondersoeke deur die Valke of polisie nie.

“Sodra die ondersoeke voltooi is, sal enige verslae of bevindinge wat uit die prosesse voortspruit, oorweeg word vir moontlike verdere stappe.

“Die DA het ’n zero-toleransie benadering tot korrupsie, en wanneer bewysgebaseerde bewerings opduik, hou ons ons ampsdraers tot verantwoording, sonder vrees of guns. Ons is trots op ons rekord van skoon bestuur en is diep bekommerd oor hierdie verwikkelinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.