Wes-Kaapse storm: Skole gesluit

Argieffoto (Foto: freeimages.com)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het Dinsdag aangekondig dat alle skole in die provinsie Woensdag gesluit sal wees.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn waarskuwing uitgereik het dat swaar reënval met stormsterkwinde en moontlike oorstromings Woensdag verwag word.

Brian Schreuder, hoof van die departement, het in ʼn verklaring gesê hy het die besluit geneem nadat daar met verskeie rolspelers, onder meer die provinsiale ramprisikobestuur en die nasionale weerdiens, gekonsulteer is. Volgens Schreuder is dit in belang van leerders en onderwysers se veiligheid om alle skole vir die dag as voorkomende maatreël te sluit. Alle departementele vervoer vir leerders sal ook vir die dag opgeskort word.

“Die provinsiale rampbestuur en die weerdiens het die kabinet ingelig oor die moontlike impak van die swaar weer. Ons is in kennis gestel dat die Wes-Kaap stormsterkwinde en swaar reën oor ʼn uitgebreide tydperk sal ervaar wanneer die storm die provinsie na verwagting vanaand tref,” het Schreuder gesê.

Hy het gesê winde van tot 90 km/h word in sommige gebiede verwag, terwyl reën van 50 mm of meer oor 24 uur sal voorkom. Seegolwe van tussen 10 m en 12 m word verwag.

“Ons grootste kommer is die veiligheid van leerders en personeel. Die storm kan skade aan skole aanrig, wat die leerders en die personeel in gevaar kan stel, asook diegene wat na die skole toe moet pendel.” Schreuder het gesê volgens die weerdiens sal die storm teen Donderdag opgeklaar het en skoolbedrywighede sal dan weer soos normaal hervat.

“Ons sal saam met die skole werk om seker te maak dat die skoolprogramme weer na normaal terugkeer en ons bedank hulle vir hul begrip en samewerking in hierdie verband.”

Die Wes-Kaapse premierskantoor het intussen in ʼn verklaring gesê die provinsiale rampbestuursentrum het uitgebreide voorbereiding getref in afwagting op die storm. Die rambestuursentrum is ten volle gereed en in verbinding met die SAPD se gesamentlike operasiesentrum, die provinsiale verkeersdepartement, nasionale noodsentrums en die nasionale seereddingsinstituut (NSRI). ʼn Gespesialiseerde tegniese reddingspan staan gereed om enige waterreddingsoperasies uit te voer.

Daar is in verbinding getree met die Suid-Afrikaanse weermag in Pretoria sou bykomende vliegtuie benodig word vir soek-en-reddingsoperasies. Die departement van water en sanitasie is ook op gereedheidgrondslag om riviere te monitor en te waarsku waar moontlike vloede kan voorkom.

Enige noodgevalle kan by 112 of 10177 aangemeld word. Die volgende kontaknommers kan ook gebruik word in geval van nood:

Kaapse Wynlande, Langeberg Munisipaliteit: 0860 88 1111
Eden-distrik: 044 805 5071
Sentraal-Karoo: 023 414 2603
Weskus: 022 433 8700
Overberg: 028 271 8111
Stad Kaapstad: 107 landlyn of 021 480 7700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Kiepie ·

Dis belaglik! Ons is 250km weg van Kaapstad, daar word 18mm reën met wind van omtrent 45 – 50km/h vir ons voorspel. Môre gaan na alle aanduidings niks meer as ‘n onplesierige wintersdag by ons wees nie maar die WKOD verplig ons skole om te sluit. En dit terwyl die kinders besig is met eksamen. Kon hulle nie maar eerder die besluit aan die hoofde of beheerliggaame oorgelaat het nie?

Justice ·

Kiepie laat jou kinders more van die geleentheid gebruik maak om voor te berei vir die eksamens Donderdag en die daaropvolgende dae. Sien die reenmeter as halfvol water.

Ken van Benoni ·

Wonderlike nuus omtrent die verwagte natweer. Prys die HERE vir dit.

Kiepie : U is ontsteld, omdat die skole sluit maar wat as dit tog erger is daar waar u woon en iemand word beseer. Ek dink voorsorg is beter dan na-sorg.

Sterkte vir almal wat die storm afwag.

Lisa ·

Al probleem is, wat moet jy nou met jou kinders maak as daar verwag word dat jy steeds more moet kom werk?

Theresa ·

Vat hul saam as oud genoeg om stil te sit en leer.
Of redeneer oor ‘n dag verlof. Die weer is baie groter as die mens.

Richie ·

Ons is in die Paarl..skool het via multi-media laat weet skool is gesluit more…

Neilia ·

Nee genade mense , wees dankbaar eers huil julle oor geen reen dan huil julle weer oor kinders want julle moet werk. Wil jy nou vir my se niemand het meer bure ? Of familie ? Of bediendes wat vir n ekstra 50 randtjie jou pligte met n glimlag oorvat. Dis waneer ek dink as ek Liewe Jesus was en na sulke strooi moes luister sou geen reen vir 5 jaar val

Koshuisbrak ·

Voorsorg beter as nasorg.

As so iets destyds tydens my skooljare moes gebeur, sou die arme koshuisvader en matrones hulle hande vol gehad het om ons te weerhou van kattekwaad. Wonder of kinders more in koshuis mag bly?

Lank en kort is dat ons kinders se veiligheid eerste moet kom.

Meisie ·

Sal help as die wat kan van die huis af werk en sodoende ook ‘n oog oor hulle kinders hou. Maar wonder watter maatskappye so ver sal dink.

Magda ·

TE Min reen – KLA – TE veel reen – KLA – Geen skole – KLA – Skole – KLA – Ons mensdom is net moo met NIKS tevrede nie – DANKIE ONSE VADER VIR DIE REEN WAT U GAAN STUUR – AMEN.

Selvin ·

Dankie Magda, ek stem 100% saam met jou, ek bly al lank nie meer in SA nie, maar Saffas is die mense wat die meeste kla, nooit tevrede met enige iets nie.

Tandeboef ·

Ons het goeie rede om te kla oor ons president , Jacob Zupta.

jaco ·

skoolstandaarde is alreeds so laag. kinders word ook nie meer vir stout wees gestraf nie en druip is amper ongekend. en dan word skole gesluit oor 1 dag se reën. Wat as volgende jaar ‘n normale reënjaar vir die Kaap is? Gaan skole dan die hele winter, wat 6 maande kan aanhou, gesluit wees? Daar was klomp stories oor “groot reën” so 3 of 4 naweke gelede. uiteindelik het nie een druppel reën geval nie.

Nettie ·

Kyk hier, “come high hell or water”, in óns skooldae, sou ons skool toe moes gaan, of dit nou stortreën, wegholwinde of helwarm-son was. Die enigste rede waarom jy sonder siekbrief uit die skool mág weggebly het, was letterlik dood in die familie. En dan ook net naaste familie, soos ‘n Pa, Ma, broer, suster, Ouma of Oupa. Die mense is besig om die hele dam onder die eend se jis uit te trek! In Worcester is ons gewóónd aan kwaai wind net voor die storm en reën kom – tans is daar nog nie ‘n wolkie in die lug nie, net rukwinde. Ons bid vir die reën, ja en al gaan die Kaap van Storms sy naam vir seker gestand doen oor die volgende twee dae, gaan daar sekere dele wees wat níé deur die voorspelde storms geraak gaan word nie. Hoekom moet alle Kaapse skole dan gesluit word? Ek stem saam met Kiepie, dat die WKOD die keuse aan die skoolhoof moes oorgelaat word om te besluit of die skool gesluit moet wees, al dan nie. Daar is regtig baie mense daar buite wat môre tuis sal moet bly, om kinders op te pas, aangesien hulle nie die geld het om hul kinders in nasorg te plaas of iemand te betaal om na hul kinders om te sien nie.

Akram ·

Ek dankbaar vir die reen. Ek wonder nou net hoe het dit in die verlede gewerk? Hulle is bang dat die skole skade kan kry en leerders beseer. Dit wil vir my lyk dat die standaard van die bou van die moderne skole en ander geboue drasties afgeneem het. Maar nouja. Bly oor die reen en dalk gebruik die leerders die tyd om te studeer. Sterkte vir julle.

Peeter ·

Nee kyk, vir julle wat so moan, nou laat julle kinders dan by die skool gaan sit, as dit storm en kinders versuip, moenie dan huil op facebook,twitter ens nie. Júl is mos braaf.

Kiepie ·

Goeie môre Peeter, en ek bedoel GOEIE môre. Dit reën heerlik in die Wes Kaap en ons is innig dankbaar daarvoor. Hier by ons het daar egter nog net 6mm reën geval en dit is ongelukkig al reeds besig om oop te trek. Hier waar ek sit sien ek plek plek al selfs stukkie blou lug sien. Die wind is nou wel onplesierig maar daar is geen gevaar dat enige bome of dakke gaan af- of omwaai nie. Sou ek eerder die dag voor die kaggel saam met my vrou (wat ‘n onderwyserres is ) en kinders wou spandeer as op kantoor? Ja beslis, maar pligsbesef en verantwoordelikheid het my anders laat besluit. En glo my daar is geen gevaar dat ek, of enige iemand anders wat vandag hier in ons dorp by die werk is, gaan “versuip” of wegwaai nie. My gebede gaan uit na die mense in die dele waar daar wel so ‘n risiko bestaan en ek gun aan hulle die wete dat hulle kinders veilig by die huis is danksy die WKOD se besluit. Was dit egter nodig om dit vir alle Wes Kaapse-skole verpligtend te maak? Ironies genoeg is die kans dat ons môre meer reën as vandag gaan kry nogal goed.

abel ·

O My genade – is die mense so bang vir die reen? Ek gaan buite staan en voel hoedat dit op my val!. Ek kan verstaan indien daar kindertjies is plakkerskampe is wat dit baie moeilik het maar my genade vir die res? Moennie papbroeke grootmaak nie!

Panda ·

Peeter lekker lag ek nou. Daar slaan jy die spyker op die kop. Die ou mensdom.

jaco ·

mens sou dink onweer is oppad soos in die rolprent The day after Tomorrow. Dit gaan gewone dag en ‘n half op die meeste se reën wees.

Jurie ·

Mense julle het nog nie 276000 mense dood sien le van water nie, rede ? Hulle wou nie vir die waarskuwing luister nie ! Moenie ‘n Almagtige God gering skat nie, ons slim mense se alwetenheid is soos gras in die vuur, dit het al baie mense se lewe gekos ! Vra my ek sien dit gereeld wereldwyd !

Ella ·

Liewe land kan ons dan oor NIKS saamstem nie? Tot die Liewe Vader weet seker nie meer watter kant toe met ons mense nie! Indien daar wel erge storms begin woed, sê almal seker weer “hulle” moes ons gewaarsku het? Ek skaam my vir diegene wie oor absoluut alles kla, en oor alles negatief is!

Bees ·

Nee ons weet nie meer watter kant toe nie. Nukkerig vir die belaglikste snert beginende by die eet van n appel.

Werner ·

See DEININGS van 10 to 12m (nie golwe nie…)
Rukwinde van tot 90km per uur (nie winde nie…)
Tot 80mm reën binne 24 uur word voorspel.
Feite?

Francis Linstrom ·

Skole sluit vir 1 dag. Mense, reen val waar dit wil en niemand kan voorspel presies waar nie. Vir seker is dit onwaarskylik dat die wind en reen die hele weskaap gaan lam lê, maar waar moet die streep getrek word en skoolhoofde is tog nie weerkundiges nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.