Wes-Kaapse tiener ná kerk vermoor

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n tienermeisie van Mitchells Plain die naweek in haar ouerhuis met ’n skerp voorwerp doodgesteek is.

Carly Isaacs (17) het Sondag pas van ’n kerkdiens teruggekeer toe sy in haar ouerhuis in Clydesdale-straat in Westridge oorval en vermoor is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 09:40 plaasgevind.

Volgens Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het Carly die betrokke oggend net vinnig by die huis aangedoen om haar kerkkleed vir ’n latere kerkdiens te kry. Haar pa het kort daarna op haar liggaam in die gesin se televisiekamer afgekom. Die tiener het steekwonde aan haar bors opgedoen en op die toneel aan haar beserings beswyk.

’n Selfoon en huissleutels word van die toneel vermis.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, het Van Wyk bevestig.

Fritz het Dinsdag die slagoffer se gesin besoek. “Ek is diep ontsteld oor die jong Carly Isaacs se dood. Haar dood het geweldige pyn veroorsaak vir almal wat haar geken het. Geen ouer behoort hul kind te begrawe nie,” het Fritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Hartseer mens dn stem geen ouer behoort ‘n kind, veral do jonk, te begrawe nie. ” Huis” was vroêr jare veronderstel om jou veilige hawe te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.