Wes-Kaapse tienerseun neem eie lewe

Arian Labuschagne. Foto: Facebook

Arian Labuschagne. Foto: Facebook

Familie en vriende van ʼn 17-jarige seun van die Strand in die Wes-Kaap wat verlede week selfmoord gepleeg het, sal Saterdag finaal van hom afskeid neem.

Arian Labuschagne, ʼn gr. 10-leerder aan die Hoërskool Strand, het verlede Vrydag in sy ouerhuis in Somerset-Wes glo homself gehang. Die Distrikspos het berig Arian se jonger broer en sy ma, Elsabé, het vroeg die oggend op sy liggaam in sy kamer afgekom.

Annamaré Francis, adjunkhoof van die Hoërskool Strand, het aan Maroela Media gesê leerders van die skool het vandeesweek ʼn informele gedenkdiens vir Arian op die strand gehou. “Nadat ons Vrydag die tragiese nuus ontvang het, het ons dadelik die departement [van basiese onderwys] gekontak en hulle het beraders en maatskaplike werkers na die skool gestuur om met die leerders en personeel te praat,” het sy gesê.

“Die polisie was ook betrokke. Leerders is as ʼn groep toegespreek waarna hulle individueel met die beraders en maatskaplike werkers kon praat.”

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen, maar geen vuilspel word vermoed nie.

ʼn Vriendin van Arian het op Facebook geskryf daar was nie een dag wat hy nie geglimlag het nie. “Dis reg, jy was die lig waar ons nie geweet het ons het donkerte nie. Jou glimlag was priceless. Ek wens ons kan net een laaste keer praat, maar die lewe gee mens nie altyd wat jy wil hê nie. Ek gaan jou mis,” het sy geskryf.

ʼn Gedenkdiens vir Arian sal Saterdag in die NG Kerk Noord in die Strand gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Emgee ·

Hierdie is ‘n tragedie. Ek wens elkeen kon Sondag by die informele gedenkdiens op die strand gewees het om sy mede-leerders se pyn en hartseer te ervaar. Dit het gevoel iemand ruk my hart uit. Daar is nou ‘n leemte in die huis en by die skool en ons moet ons kinders ondersteun om hierdie trauma te hanteer. Baie sterkte en innige simpatie aan die ouers en sy broer. Julle bly in ons gebede.

Ruby ·

Ai, wat ‘n mooie seun, hy lyk so liefdevol.

Sterkte aan al sy geliefdes.

SARIE ·

My hart gaan uit na die ouers. Ons het my 15 jarige kleinseun ook aan die dood af gestaan 5 mnde terug. Wil net weet by die ouers het hulle seun n briefie gelos? My kleinseun is dood terwyl hy die CHOKING GAME gespeel het. Sy pa het hom in sy kamer ontdek waar hy aan die deur se handvatsel gehang het. Dalk is dit ook die geval van die seun. Dalk kan die ouers net ondersoek instel en hoor by die skool of hulle die game gespeel het. Om sodoende berusting te kry. Waar kan ek in kontak kom met die ouers?

wes kaap ·

Baie sterkte aan hierdie familie!!!!! Ons vra dat God julle sal vas hou in hierdie moeilike tyd en julle vertroos.

Beatrix Stevens ·

Dit is regtig baie tragies…. en gebeur nou so baie onder die jong kinders??? As n mens net partykeer die tekens kan lees…, maar as n ouer ken jy jou kind… en verwag nie dat so iets sal gebeur?? Mens vra net altyd?? Hoekom? Hoekom nou juis my kind”’ en veral omdat die Ma nog ook moes aanskou hoe dit gebeur het… My hart gaan uit na jou Elsabe… ek hoop dat jul berusting sal vind in die hartseer tye… en dat al jul vrae beantwoord sal word…”’ STERKTE ”

Swaeltjie ·

Dis swaar om almal wat agterbly se boodskappe te lees. Ek wens ek kan vir almal wat my liefhet vra om hulle liefde nou te wys want ek het dit so nodig. Ek wens ek kan vir almal wat my aanval en beskinder uit jaloesie en haat vra om op te hou. Ek wil vir hulle sê dat ek seer het, dat ek geen ander uitweg sien nie. Die Here het my so hard geslaan dat ek nie weer kan opstaan nie. Wees lief vir mekaar

Gideon ·

Ai liewe Swaeltjie as jy so voel maak dit my sommer hartseer. Baie van ons mense het die verskriklikste swaar wat elke dag mee geworstel word. Daardie seer wat sommige mense dra klink net te vreeslik om te hanteer, maar tog as mens terugkyk na 5 of 10 jaar dan staan mens verstom dat die verdriet plek gemaak het vir onderskraging aan ander mense wat ook swaarkry!!

Sonja ·

Swaeltjie, asseblief, asseblief, ASSEBLIEF stuur vir my ‘n email?? [email protected]? Ek sal soooo graag met jou wil gesels, al is dit net op ‘papier’ Asseblief? My hart gaan uit na Arian se mamma en sy familie en vriende. Mag julle harte rustig raak. Baie sterkte.

Magda ·

My hart is so stukkend vir die familie. Geen woorde kan die seer wegvat nie, tyd leer ons om daarmee saam te leef.
Ek kom uit n familie van selfmoord. Ek as jong kind deur n dubbele tragedie, myself belowe dat ek dit nie aan enige iemand wil doen nie. Maar geskei, goeie christen met 2 talentvolle kinders ,1 met baie mediese uitgawes, en ek uitgesit gaan word vir agterstallige huurgelde, soms nie weet wat hul gaan ek nie of hoe ek die einde november se bybetaling vir operasie gaan betaal nie. Kan ek verstaan dat dit soms net te donker is om enige uitkoms te sien. Nie meer hier of op straat sit of in n witplakkerskamp , die keuses van my lewe.
Mag die familie troos uit Jesus hand vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.