Wes-Kaapse universiteite sluit ook

‘n Satellietfoto wat Woensdag (7 Junie 2017) deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens beskikbaar gestel is.

Die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) sal Woensdag ook vir die dag gesluit wees te midde van waarskuwings dat ʼn erge storm vandag in die provinsie verwag word.

Dr. Max Price, visekanselier van die UK, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê aangesien dit nie duidelik is in watter mate die storm die UK-kampus sal affekteer nie, is daar besluit om die kampus vir die dag gesluit. “Ons neem hierdie besluit nie ligtelik nie. Ons doen dit om die risiko vir studente en personeel om buitenshuis te wees tydens die storm te verminder,” het Price gesê.

Price het gesê studente moet direk met hul akademiese departement of fakulteit praat oor klasse wat hierdeur geraak word.

Intussen het die US ook aangekondig dat alle eksamens vir vandag geherskeduleer sal word. Die universiteit het op sy amptelike Facebook-blad gesê personeel moet hul bestuurders direk raadpleeg of dit raadsaam is om vandag na die kampus te ry. Die universiteit het studente gevra om die US-webtuiste dop te hou vir inligting oor die herskedulering van eksamens.

‘n Boom wat in Eersterivier in die Wes-Kaap ontwortel is. Foto: Twitter via @ReneciaW

Prof. Vivienne Lawack, waarnemende rektor en vise-kanselier van UWK, het ook in ʼn verklaring gesê dat die UWK-kampus vir die dag gesluit sal wees. Sy het personeel en studente aangemoedig om vir die volgende 24 uur uit gevaar te bly.

Die universiteit se besluit kom nadat die Wes-Kaapse departement van onderwys Dinsdag aangekondig het dat al die skole vir die dag gesluit sal word nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn waarskuwing uitgereik het dat swaar reënval met stormsterkwinde en moontlike oorstromings vandag verwag word.

Brian Schreuder, hoof van die departement, het in ʼn verklaring gesê die provinsiale ramprisikobestuur en die nasionale weerdiens het die kabinet ingelig dat die provinsie winde van tot 90 km/h in sommige gebiede kan verwag, terwyl reën van 50 mm of meer oor 24 uur sal voorkom. Seegolwe van tussen 10 m en 12 m word verwag. Hy het gesê daar is na deeglike oorweging besluit om die skole ter wille van leerders en onderwysers se veiligheid te sluit. Die sluiting geld net vir een dag en die normale skoolprogram sal Donderdag weer hervat.

Motoriste is op sosiale media gewaarsku dat daar plek-plek oorstromings op die N2 in die Wes-Kaap voorkom. Foto: Twitter via @CapeTownFreeway

Intussen het die Wes-Kaapse premierskantoor gesê die provinsiale rampbestuursentrum het uitgebreide voorbereiding getref in afwagting op die storm. Die rambestuursentrum is ten volle gereed en in verbinding met die SAPD se gesamentlike operasiesentrum, die provinsiale verkeersdepartement, nasionale noodsentrums en die nasionale seereddingsinstituut (NSRI).

Teen Woensdagoggend het mense reeds foto’s op sosiale media gedeel van bome wat ontwortel is, paaie wat versper is en vloede wat plek-plek voorgekom het. Metrorail-treindienste tussen Wellington en Bellville is ook opgeskort en enkele paaie is gesluit.

Enige noodgevalle kan by 112 of 10177 aangemeld word. Die volgende kontaknommers kan ook gebruik word in geval van nood:

Kaapse Wynlande, Langeberg Munisipaliteit: 0860 88 1111
Eden-distrik: 044 805 5071
Sentraal-Karoo: 023 414 2603
Weskus: 022 433 8700
Overberg: 028 271 8111
Stad Kaapstad: 107 landlyn of 021 480 7700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Storms, letterlik en figuurlik in ons bankkrot-landjie. Eskom sal sekerlik die situasie probeer uitbuit ~ maar die volk se beursies is leeg…

Ai ·

So bly hulle kry uiteindelik reen. Blykbaar is dit die ergste storm in 30 jaar. Almal moet maar veillig in hulle huise bly. Ons land word gepeper met omtrent alles. Wanneer gaan ons oe oopgaan.

foxi ·

Jammer…maar na 2000 jaar het die mens se oë nogsteeds nie oopgegaan nie…..

LIEZL ·

Ja, dis die ergste storm seker, maar die ERGSTE storm woed elke dag in mense se harte! Sooo dankbaar vir die reën. Hopelik was die reën die mense se gemoedere skoon. Dankie Jesus dankie vir U liefde vir ons xxx

Ai ·

Foxy, ja en nie almal sn sal nie maar niemand gaan kan se hulle het nie geweet nie en niemand sal kan se die tekens was nie daar nie.

Anoniem ·

Ai…Wat het die storm nou te doen met wanneer ons as mensdom se oe oopgaan? Wees eerder dankbaar vir die reen al rig dit skade aan…Kaap het dit nodig!!!!!!

Lena ·

Dankie dat julle ons ingelig het oor die storm en ons op datum hou. Maroela was my enigste bron van inligting oor die komende weerstoestande en ek kon betyds voorbereidings tref daarvoor. My diere is veilig binne. Die storm het gisteraand losgebars en woed nog een stryk deur.

Kobie ·

Dit sal ‘n week lank moet reën om enige beduidende verskil aan die damvlakke te maak. So ‘n storm is net verwoestend en nutteloos.

Adriana ·

Dit reen en storm so lekker hier by ons!Ek kan nie ophou kyk nie!En die reen op die dak!Kan nie ophou luister nie!So geseend! En my groot dromme buite raak vol water! Jippie!!

Glenn Baard Namibia ·

Geluk aan die Wes Kaapse regering vir julle vooruit beplanning . Dit is ook opvallend dat werkers deurlopend dienste lewer en paaie oopmaak wat versper is in uiters onveiige omstandighede.

Die ANC kan gerus kyk en leer hoe diens gelewer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.