Wes-Kaapse verkeershoof roep vaarwel na 46 jaar

Kenny Africa as verkeershoof van die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf.)

Dis die Paasnaweek van 1974 toe potblou Ford Cortinas, met ronde blou ligte bo-op die dak en beamptes netjies in uniform, Genadendal binnery wat Kenny Africa laat besluit het:

“As ek eendag gereed is, sal ek ʼn verkeersman wil word.”

Dié voormalige verkeershoof het vandeesweek sy 46 jaar diens as verkeersbeampte en 10 jaar as verkeershoof van die Wes-Kaap afgesluit. Met die Covid-19-pandemie en die onlangse wydverspreide betogings in die provinsie tree Kenny in ʼn tyd uit wat hy beskryf as ʼn hoogtepunt in sy loopbaan.

Sy uitmuntende diens as verkeersbeampte en die besonderse wyse waarop hy oor die jare die media en publiek ingelig gehou het oor die stand van paaie laat ʼn mens wonder waar dié toegewydheid en inspanning vir sy beroep ontstaan het.

Kenny het op die Morawiese sendingstasie, Genadendal, in die Overberg, grootgeword waar hy die jongste van 11 kinders was. Sy pa is oorlede toe hy net 2 jaar oud was. Dit het sy ma genoodsaak om in die stad te gaan werk om vir haar kinders kos, klere en onderrig te verseker.

Kenny as jong verkeersbeampte. (Foto: Verskaf.)

Kenny het sy skoolloopbaan in 1974 in Genadendal voltooi en het reeds daardie jaar verskeie kere by die departement van vervoer aansoek gedoen om ‘n verkeersbeampte te word.

“Ek het eendag besluit om te ryloop Kaap toe. Die middag kwart voor vier het ek in Kaapstad aangekom in Alfredstraat waar die departement van vervoer se hoofkantoor was. Daar op die sesde vloer by kamer 602 het ek gaan klop aan die deur en ʼn mnr. Snyman het die deur oopgemaak,” vertel Kenny.

Hy moes weer hoor dat hy ʼn dag te laat was.

Gelukkig kon die verkeersdepartement vasstel dat Kenny al telkemale vir dié pos aansoek gedoen het. Na ʼn deurdringende onderhoud het hy die daaropvolgende Maandag saam met agt ander goedgekeurde kandidate by die verkeersdepartement se kollege aangemeld.

“Dit was die wonderlikste nuus wat ek nog in my lewe gekry het.”

Kenny het daardie Desember sy opleiding voltooi en is as provinsiale verkeersbeampte na Worcester uitgeplaas.

“Dit was moeilike tye gewees. In 1974 het apartheid nog hooggety gevier. Ons het nie dieselfde uniform gedra nie, ook nie dieselfde salaris verdien as ons wit eweknieë nie. Ons het ook nie die geleentheid gehad om nuwe motors te kry nie. Ons het tweedehandse motors gekry waarvan die radio en lugversorgingstelsel uitgehaal is.”

Kenny se Jetta wat hy as ʼn gesubsidieerde voertuig gekry het. (Foto: Verskaf.)

Dié uitdagings was egter vir Kenny ʼn motivering om sy eie standaarde te verhoog.

Waar die gemiddelde vrywillige oortyd per maand 12 ure was, het Kenny 120 ure per maand ingesit. In stede van die normale 30 kaartjies per maand, het hy 300 uitgereik; en pleks van een inhegtenisneming per maand, het hy 15 gemaak.

“Ses maande later toe was ek die eerste sogenaamde kleurlingbeampte wat bevorder is na ʼn hoër rang toe – in die hele Kaapprovinsie.”

Kenny is in 1984 na Beaufort-Wes verplaas.

“Ek het ʼn sesde sintuig begin ontwikkel vir gesteelde motors en dwelmsmokkelaars. Dit is amper asof ek kon uitruik wanneer ʼn voertuig gesteel was óf dwelms vervoer het. Daardie sesde sintuig het my gehelp om honderde persone te arresteer. Ek het niks minder as agt moordenaars in my loopbaan vasgetrek nie.”

Na byna 15 jaar se diens is Kenny in 1989 aangestel om Operasie Protea te lei, ʼn poging om die Dutoitskloofpas te beveilig weens die hoë ongeluksyfer op dié pas destyds. Hy en sy span het die pas, wat daagliks ʼn lewe geëis het, so beveilig dat daar vir 88 dae geen ongelukke op die pas voorgekom het nie. Dit was juis tydens hierdie operasie wat Kenny een van sy hoogtepunte in sy loopbaan ervaar het.

“Een oggend het ek by ʼn motor op die pas stilgehou en besef ʼn vrou is besig om in kraam te gaan, en ek moes die baba vang. ʼn Pragtige dogtertjie is daai dag gebore.”

Kenny en Trudy met hulle drie kinders, Kenneth, Eileen en Henry. (Foto: Verskaf.)

Dieselfde paaie wat Kenny gepatrolleer en altyd probeer beveilig het, het ook die lewe van sy en sy vrou, Trudy, se oudste seun geëis toe hy in 2001 in ʼn motorongeluk gesterf het.

“Nadat ek ʼn vegter was teen ongelukke en die hoë sterftesyfer op ons paaie het ek nooit gedink dit sal met my eie gesin gebeur nie. Ek dink dit het vir my soveel meer krag gegee en gemotiveer om nog meer en beter te doen, en die ekstra myl te stap om te sorg dat ander ouers se seuns en dogters veilig is”.

In 2001 is Kenny tot adjunk‑ provinsiale verkeershoof van die Wes-Kaap bevorder.

Vroeg in sy loopbaan het Kenny, weens die moeilike werksomstandighede onder die apartheidsbedeling, twee keer probeer om te bedank. Gelukkig het hy albei kere sy bedankingsbrief aan sy kollega gegee om deur te lees, wat dit albei kere opgeskeur het.

“Hy sê daai dag vir my, nadat hy wraggies vir ʼn tweede keer my brief opgeskeur het, ‘Kenny jy gaan nog eendag hierdie provinsie se hoof van verkeer word’.”

Op 1 April 2010 het Kenny Africa die provinsiale verkeerhoof van die Wes-Kaap geword.

As hy terugkyk, beskryf Kenny sy loopbaan as wonderlik.

“Soms was dit soos ʼn sprokiesverhaal, soms was dit soos ʼn misdaadtoneel waarin jy die hoofrol vertolk waar jy soms in die loop van ʼn rewolwer in vaskyk en dink dit is die laaste.

“Maar geloof het my nog altyd deurgedra. Ek glo mens moet vertrou en glo dat wanneer jy op die pad gaan jy dit nie alleen kan doen nie en dat jy altyd die Hemelse Vader saam met jou moet vat”.

Kenny het ’n BTech-graad in verkeer en munisipale polisiëring by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie voltooi. (Foto: Verskaf.)

Kenny het nog altyd by sy leuse gehou.

“Maak ʼn verskil in ʼn ander mens se lewe op ʼn daaglikse basis, dan sal dit met jou goedgaan.

“Ek glo daaraan om altyd die minste te wees. Al is ek ook reg. Om die publiek van die provinsie en die land te dien, was vir my ʼn prioriteit al die jare. Ek glo aan 24-uur‑diens aan die gemeenskap, my telefoon moet altyd aan wees en mag nie meer as drie luie gee nie dan moet ek dit antwoord, want ek glo dit kan die verskil tussen lewe en dood wees.”

Dit is nie net in die Wes-Kaap waar Kenny ʼn beduidende rol gespeel het nie. Hy het landwyd, tot so ver as Lesotho, verkeersverslae opgestel en uitgestuur. Sy rustige stem sou jy ook gereeld oor die radio hoor wanneer hy waarskuwings gee of raad gee aan vakansiegangers wat lang afstande gaan aflê.

Hoewel Kenny uitgetree het as verkeersbeampte, is hy glad nog nie afgetree nie.

“Eerstens het ek die gedagte om in die politiek in te gaan, tweedens het ek gevoel miskien moet ek gaan doseer en kyk of ek nie ʼn bydrae kan lewer in ons jong verkeersbeamptes se lewens nie”.

Kenny Africa het Vrydagmiddag 31 Julie van sy loopbaan as verkeershoof afskeid geneem in ooreenstemming met sy werksetiek en stiptelikheid die afgelope 46 jaar.

“Ek het gesê ek sal werk tot die laaste minuut toe, so ek sal aan diens wees tot Vrydagmiddag 16:00. Dan sal ek my verkeershoed afhaal en die beroep vaarwel roep.”

Kenny en Trudy se drie kleinkinders, Storme Africa Sylvester, Heike Africa Sylvester, Zeeg Africa. (Foto: Verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
'n Simpelman

Ken jou nie, maar dankie vir ‘n wonderlike voorbeeld.
46 jare is ‘n lang tyd, sterkte met jou toekoms.

Yvonne

Netjiese eerlik man

Pieter

Geniet jou aftrede. Sien die artikel meld niks van sy omstrede tyd as verkeershoof van George nie.

Riette

Ek hoor al jare vir Mnr Afrika op die radio en veral gedurende Desember en April vakansies wanneer hy orde op die Weskaap paaie probeer hou. Hierdie Desember het ek veral lekkergekry oor hoe hy doodgewoon stand geneem het teen selfoongebruik terwyl mense bestuur. Dit is ‘n riem onder die hart dat daar nog leiers soos Mnr Afrika is. He neem stand in vir wat reg is sonder om ‘n groot geraas te maak en werk dan doodgewoon hard aan implementering terwyl hy deurgans goed kommunikeer. Baie voorspoed met u politieke loopbaan – u sal ‘n aanwins wees vir enige… Lees meer »

christo

Wanneer ek in Desember die langpad Kaaptoe aangepak het, het ek geweet sodra ek in die Wes-Kaapland ry, ek weet dat daar altyd ‘n verkeersbeampte (‘bloubaadjie’) êrens aan diens is. Menige keer vir routine inspeksies afgetrek en altyd beleefd en met respek behandel. Kenny se verkeersverslae op RSG was insiggewend en die herhaalde versoeke om veilig te bestuur het hopelik nie op dowe ore geval nie. Geniet die aftrede Mnr. Kenny Africa dis welverdiend. Trudy dankie dat jy jou man met die mense op die paaie gedeel het.