Wes-Kaapse wapenvonds: Drie hoor oor borgtog

Argieffoto

Argieffoto

Die pa, seun en dogter, wat verlede week in hegtenis geneem is nadat ʼn reuse hoeveelheid onwettige vuurwapens en ammunisie in ʼn ondergrondse bunker op die Kaapse Vlakte gevind is, het Donderdag om borgtog aansoek gedoen.

Johannes Abrahams sr. (65), Johannes Abrahams jr. (41) en Bonita Abrahams (38) is in die Goodwood-distrikshof op borgtog van R20 000 elk vrygelaat. Die drie is in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk ontvang het en op 250 vuurwapens, ammunisie en ʼn onbevestigde bedrag kontant in ʼn bunker in Valhallapark afgekom het.

Tydens die drie lede van die Abrahams-gesin se eerste hofverskyning is twee ander verdagtes, wat saam met hulle in hegtenis geneem is, vrygelaat nadat die aanklagte teen hulle laat vaar is.

Adv. Christiaan de Jongh, die staatsaanklaer, het Donderdag gesê die staat het geen rede om die drie se borgtogaansoek teen te staan nie. Die staat het vooraf met die drie se regsverteenwoordiger, adv. Ross McKernan, op ʼn borgtogbedrag van R20 000 elk ooreengekom.

Hulle mag volgens hul borgtogvoorwaardes nie die Wes-Kaap sonder skriftelike toestemming verlaat nie. Abrahams jr. moes ook sy paspoort aan die ondersoekbeampte oorhandig.

Die klagstaat teen die drie verdagtes was nog nie Donderdag beskikbaar nie, maar hulle sal vermoedelik tereg staan op aanklagte van diefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die drie sal weer op 19 Januarie 2017 in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Nou gaan daai wapens wat die polisie op beslag gelê het, seker in die ander kriminele se hande beland.

Thea Gerber ·

Dit is heel waarskynlik dat hierdie wapens reeds voorheen deur die polisie gekonfiskeer is. Heel waarskynlik tussen die stoor en vernietiging verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.