Wes-Kaapse waterbeperkings dalk gou verslap

Argieffoto (Foto: weronica0, Pixabay)

Die Stad Kaapstad het ʼn versoek aan die nasionale departement van water en sanitasie gerig dat die streng waterbeperkings in die Moederstad en elders in die provinsie geleidelik verslap word.

Dít nadat gemiddelde damvlakke oor die afgelope week met nog 1,9% na 62% toegeneem het.

Ian Neilson, uitvoerende adjunkburgemeester van Kaapstad, het gesê amptenare van die stad het Vrydag met verteenwoordigers van die departement van water en sanitasie vergader en die geleidelike verslapping van waterbeperkings voorgestel. Die stad voer aan dat die verminderde beperkings gepaard moet gaan met die verslapping van waterbeperkingstariewe.

“Aangesien damvlakke nou bo 60% is, het die Stad ʼn voorstel, gegrond op ʼn risikogebaseerde analise, aan die departement gemaak dat die waterbeperkingsvlakke konserwatief en marginaal verslap moet word. Die Stad se voorstel is dat stedelike beperkings van 45% na 40% verslap word en landelike beperkings van 60% na 50%,” het Neilson gesê.

Die waterbeperkings is deur die nasionale departement van water en sanitasie ingestel om ʼn teenvoeter te bied vir die hewige droogte waaronder die provinsie gebuk gegaan het. Die beperkings het gehelp om te verhoed dat Stad Kaapstad die gevreesde Dag Zero in die gesig staar.

Die beperkings het beteken dat Kaapstad sy waterverbruik met 45% van die hoeveelheid wat normaalweg vir die stad geallokeer is, moes verminder. Dit is ook hoe die stad se teiken van 450 miljoen liter watergebruik per dag, of 50 liter water per persoon per dag, bepaal is.

Volgens Neilson was die afgelope week se waterverbruik 513 miljoen liter per dag, ʼn afname van die vorige week se 527 miljoen liter per dag.

“Aangesien die watervoorraad-situasie genoegsaam verbeter het, is die noodsaaklik dat die verslapping van beperkings so gou as moontlik moet plaasvind, nie net sodat ekonomiese aktiwiteite in die provinsie kan verbeter nie, maar ook sodat huishoudings en ondernemings die nodige tariefverligting kan ervaar.”

Hy het gesê die departement het onderneem om teen Vrydag ʼn antwoord op die stad se versoek te gee.

Neilson het sy dank uitgespreek teenoor Wes-Kaapse inwoners vir hul voortgesette pogings om so min water as moontlik te gebruik om die provinsie te help om ʼn buffer te bou teen die somermaande wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Goeie nuus vir Kapenaars… maar dit is nie die enigste gebied wat onder waterbeperkings gebuk gegaan het nie. Die Vrystaat se probleme kry min publisiteit en skynbaar ook geen aandag van die ANC-gedrewe bestuur nie. Seker vir al meer as twee jaar kan inwoners van Bloemfontein nie tuinslange gebruik nie met groot skade aan tuine. In die kleiner dorpe is daar nie eens water nie, wat nog natspuit. Ace is bevorder om van hom ontslae te raak maar beter gaan dit nie beter nie… al meer wurms peul net uit die verrotte appels en melkkanne.

Dom ·

Hou op om water op jou tuin te mors. Ek bly in die kaap het nog nooit water gegee nie en my gras bly groen bome lyk mooi. Maak n ander plan. Hou die dronkwater vir drink en hou op mors

Se maar net ·

Stop dan sommer ook die R300 pm heffing wat ons in die Wes-Kaap moet betaal vir niks.

Stuiwer ·

Wow, sê maar net, ek bly in Somerset-Wes en betaal definitief nie ‘n R300 waterheffing per maand nie. Ek sal bietjie rondvra as ek jy is. Klink my jy word ingedoen.

Gatvol Kaapstad ·

Ja Stad Kaapstad, wat van die water heffing waarmee julle ons nog steeds wurg? Die biljoene oorverhaling wat nou gebruik word om die taxi wassers se water te betaal wat 24/7 straataf loop? Ons is nou al gewoond aan min water en hoë kostes om reënwater op te gaar. Ons kan nie meer die soustrein trek nie! Ons moet ook eet!

Stuiwer ·

Dom, ek neem aan die “dronkwater” waarna jy verwys is wyn???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.