Wes-Kapenaars moet regmaak vir wind, reën

(Argieffoto: Tsering Topgyal/AP)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ʼn kouefront wat die Suidwes-Kaap Dinsdagaand getref het, gaan nog heelwat reën meebring. Nog ʼn stadig bewegende kouefront tref die gebied na verwagting laat Woensdagmiddag.

Die weerdiens sê die kouefront gaan ook lei tot sterk wind, veral oor die suidwestelike kusgebiede en gaan na later na die binneland versprei. Wind van tussen 45 km/h en 60 km/h word voorspel, maar kan tot 80 km/h langs die kus toeneem.

Die weerdiens waarsku dit kan skade veroorsaak aan strukture soos informele huise.

Rowwe seetoestande met branders van tussen 4 m en 6 m hoog word tussen Kaap Columbine en Stilbaai voorspel. Dit sal later vanmiddag bedaar. Die weerdiens sê die kombinasie van sterk wind en rowwe see sal die gure weerstoestande langs die kusgebiede vererger.

Ligte tot matige reënval wat van Dinsdagaand in die suidwestelike gebiede van die Wes-Kaap verwag is, gaan na verwagting teen vandag na die Weskus-distrik en kusgedeelte van die Tuinroete versprei terwyl die front ooswaarts beweeg.

Die verwagte tweede front gaan Woensdag lei tot bestendige reënval oor die suidwestelike gebiede van die provinsie. Die weerdiens waarsku inwoners van dié gebiede teen oorstromings.

Geen reën word in hierdie stadium vir die sentrale en oostelike provinsies voorspel nie, behalwe die westelike gebiede van Limpopo wat ʼn paar middagdonderbuie kan verwag.

Die reënweer in die Wes-Kaap sal Donderdag begin wyk, met enkele buie langs die suidkus wat nog tot môreaand verwag word.

Die sentrale en sentraal-oostelike provinsies kan donderstorms in die middag verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Ai, hoe geniet ek hierdie reënweer! Met die windjie wat nie te sterk stoot nie, smaak ‘n koppie koffie vorentoe. Ons verwelkom hierdie reën.