Weskus oor brande gewaarsku

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum het Vrydag ʼn brandwaarskuwing uitgereik vir uiterste weerstoestande langs die weskus, wat die risiko van brande in die gebied verhoog.

Anton Bredell, provinsiale minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het in ʼn verklaring gesê die gebied het gelukkig nog nie ʼn ernstige voorval in die huidige brandseisoen gehad nie.

“Ongelukkig word [weers]toestande verwag wat die risiko van ʼn ernstige brand in die gebied verhoog. Ons wil ʼn beroep op alle toeriste, besoekers en inwoners van die Weskus doen om oor die volgende paar weke baie versigtig te wees om brande sover moontlik te voorkom,” het Bredell gesê.

Colin Deiner, die hoof van die Rampbestuursentrum in die Wes-Kaap, het gesê die Kaapse Skiereiland en die Kaapse Wynlande is saam met die Weskus-gebied geïdentifiseer as hoë-risiko gebiede vir wegholbrande. Die gebied is baie droog en baie warm, met sterk wind. Die seisoen was tot dusver uiters uitdagend en ons hoop die Weskus kan sover moontlik enige voorvalle gespaar word.”

Volgens Deiner het ʼn groot brand Vrydagmiddag in die Dutoitskloofpas gewoed en moes ʼn reuse span brandbestryers daarheen ontplooi word. Teen laat Vrydagmiddag was brandbestryders steeds besig om teen die vlamme te veg.

Bredell het inwoners gevra om brande so gou as moontlik aan te meld en nie net aan te neem dat dit reeds aangemeld is nie. Brande kan by die plaaslike distriksmunisipaliteit aangemeld word:

Stad Kaapstad: 107 of 021 480 7700 van ʼn selfoon
Overberg: 028 425 1690
Weskus: 022 433 8700
Eden: 044 805 5071
Sentraal-Karoo: 023 414 2603
Kaapse Wynlande: 021 887 4446

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

?.. die gebied het nie ‘n ernstige voorval gehad die afgelope tyd nie… Wat van die kulturele erfenisse wat vernietig is en die skade aan oeste, plante en groot bome en die gevaarlike omstandighede waaronder brandbestryders moes werk en die miljoene rande se skade en versekeringseise…

Estelle ·

Ek stem saam met Hennie, hou die mense dop! Dit is nie nodig om te brand nie en wanneer iemand iets verdags opmerk moet daar dadelik alarm gemaak word sodat die kwaaddoeners gevang kan word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.