
Die kantoor van die Tabakbaai-oord in Diazville, Saldanha, is een van drie munisipale geboue wat tydens Donderdag se onwettige protesoptrede aan die brand gesteek is. Foto: Facebook
Die situasie op Vredenburg aan die Kaapse Weskus waar oproerige inwoners Dinsdag en Woensdag aan onwettige protesoptrede deelgeneem het, is weer normaal, maar op die aanliggende Saldanha het oproermakers munisipale geboue aan die brand gesteek.
Marius Koen, Saldanhabaai se burgemeester, het Woensdagaand met sowat 3 500 inwoners van Louwville vergader om hul besware te bespreek en terugvoering van die munisipaliteit te gee, sê Ethne Julius, munisipale woordvoerder.
Die munisipaliteit het inwoners bedank dat hulle die moeite gedoen het om die vergadering by te woon en vir “hul toewyding daartoe om ʼn vreedsame oplossing vir hul probleme te kry”.
Terwyl Vredenburg nou rustig is, het oproer in die township Middel op Saldanha omstreeks 03:00 vanoggend opgevlam. Die situasie was later steeds gespanne terwyl betogers buitebande op paaie aan die brand gesteek het.
Die gemeenskapsaal en munisipale kantoor in Diazville is aan die brand gesteek en ʼn private woning is beskadig. Ook die kantoor van die Tabakbaai-ontspanningsoord in Diazville is aan die brand gesteek.
Reserviste van die SAPD se eenheid vir openbare orde en die aangrensende Swartland-munisipaliteit se wetstoepassers is op die toneel om bystand te bied en die situasie onder beheer te hou, sê Julius.
Die Weskus-sakekamer sou Koen en die burgemeesterskomitee vanoggend om 09:00 ontmoet het vir die jongste inligting oor die situasie en ʼn ontleding en bespreking van die huidige protesoptrede.
Saldanhabaai-munisipaliteit, wat ook dorpe soos Hopefield, Langebaan, Paternoster en St. Helenabaai insluit, maan inwoners om op hul hoede te bly en versigtig te wees tot verdere kennisgewing. Paaie na Diazville en Middelpos bly intussen gesluit.
Inwoners en besoekers wat op die hoogte van die gebeure wil bly, kan e-pos stuur na [email protected] om nuus oor situasie per SMS te ontvang. Sluit jou naam, woonadres en selfoonnommer in. Die jongste nuus is ook beskikbaar op die plaaslike owerheid se webwerf of Facebook-groep.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Brand, Suid Afrika!
Brand vandag af en more huil hulle want hulle het niks nie . Shame , hoe dom kan mens dan nou wees om te dink dat om af te brand wat daar is en te demand wat daat nie is nie .
Nou moet dit wat hulle afgebrand het eers reg gemaak word voordat daar verberinge kan kom . Dit plaas hulle op die einde van die dag in n slegter posissie as wat hulle was . Ai tog .
nou waar en hoe dink hulle gaan die munisipaliteit nou die ding moet doen as hulle nou alles vernietig het?
Dis of eff of anc wat agter hier oproer sit. Enige iets net om ander partye te diskrediteur ongeag wat in die slag bly.
Brand en ‘demand’…dit is hoe dit is.Sal dit nooit kan verander nie