Wessels-verslag het géén regstatus – Solidariteit

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, begaan ’n ernstige fout deur die bevindinge van die sogenaamde Wessels-kommissie te aanvaar, en deur boonop politieke druk op die Noordwes-Universiteit (NWU) te plaas deur daarop aan te dring dat ingrypende en radikale transformasie geïmplementeer moet word.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Bewegin, is die Wessels-verslag egter nie ’n dokument wat as basis kan dien vir enige gevolgtrekkings of besluit deur die minister of die universiteitsraad nie.

“Die rede hiervoor is dat die Raad van die Universiteit die verslag vanweë die duidelike gebreke daarin nie aanvaar het nie en dit dus geen regstatus geniet nie. Die universiteit het erken dat daar onder meer prosessuele gebreke in die verslag bestaan, en het daarom sy eie verslag aan die minister gestuur. Die minister probeer duidelik lewe in die gebrekkige dokument inblaas om só ’n presterende universiteit aan te val, maar ignoreer die werklike krisisse wat tans op tersiêre vlak heers, soos wat tans by die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT), die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT), die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) en die Limpopo-universiteit ervaar word,” het Buys gesê.

“Die minister, soos enige staatsamptenaar, is in die uitoefening van sy magte en bevoegdhede gebonde aan administratiewe beginsels van die reg. Sy besluite moet rasioneel, billik en regverdig wees. Sou hy enige besluit neem op die basis van die verslag, sal dit irrasioneel wees en gronde bied vir ’n hersieningsaansoek.”

Volgens Buys is die minister se beskrywing van die Puk as ’n “apartheidsinstelling” onsinnig en ’n deursigtige poging om sy politieke mag te misbruik om die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes te probeer stoomroller.

“Dit is kommerwekkend dat Afrikaanssprekendes twintig jaar ná 1994 nog moet veg vir hul vanselfsprekende grondwetlike reg op moedertaalonderrig. Die Solidariteit Beweging sal volstoom voortgaan om homself te beywer vir die toegang tot universiteitsopleiding in hul moedertaal vir Afrikaanse jongmense,” het Buys gesê.

Lees ook:
‘Puk is steeds ʼn apartheidsinstelling’ sê minister

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.