Westbury-moordsaak: Drie hoor eers dán oor borgtog

Woedende betogers buite die Sophiatown polisiekantoor kort na die moord op Petersen. Foto: ANA.

Die verhoor van die drie mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Heather Petersen in Westbury in Johannesburg is Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Peterson is verlede maand doodgeskiet toe sy in die kruisvuur van ʼn beweerde bendeskietery in Westbury beland het. ʼn Tienjarige kind was by haar ten tyde van die voorval en die kind is ook in die skietery gewond, maar het oorleef.

Die voorval het gewelddadige betogings in die gemeenskap ontketen oor die voortslepende bendegeweld en die polisie se oënskynlike skoueroptrekkery om die hoë vlakke van misdaad te bekamp.

Die hof het Dinsdag gehoor die uitkenparade vir die derde beskuldigde is nog nie afgehandel nie en sal oor die naweek uitgevoer word – die aansoek om borgtog kon dus nie voortgaan nie.

Die landdros het voor die saak begin het die aanwesiges op die galery gevra om die hof te verlaat en versoek dat alle selfone afgeskakel word. Hy het ook bepaal geen foto’s of identifisering van die beskuldigdes word toegelaat nie.

Lede van die media moes ʼn formele aansoek bring om die verrigtinge op die dag van die aansoek om borgtog te dek.

Die verdagtes sal in aanhouding bly tot 14 November wanneer hulle weer sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.