Westbury-skietery: Man in hof

Luke Tibbetts. Foto: Twitter

Luke Tibbetts. Foto: Twitter

Een van die mans wat in hegtenis geneem is na die dood van die driejarige Luke Tibbetts het Maandag in die Newlands-landdroshof in Johannesburg verskyn.

Keenan Mokwena (28) is borgtog geweier. “Dit is nie in belang van geregtigheid dat die beskuldigde op borg vrygelaat word nie,” het landdros Elmarie Engelbrecht gesê.

Die saak teen Mokwena is tot 3 September uitgestel.

Sers. Diedelof Fourie het Maandag getuig dat Mokwena en Lindray Khakhu (24), die man wat daarvan beskuldig word dat hy Tibbetts doodgeskiet het, die dag van die skietery in ‘n argument betrokke was.

Die voorval het op 2 Augustus in Westbury, in die weste van Johannesburg, plaasgevind.

“Hy [Mokwena] is daar weg en het met ‘n vuurwapen teruggekeer en dit op Khakhu gerig.”

Fourie sê Khakhu het skote op Mokwena afgevuur. Mokwena was besig om te bestuur.

‘n Dwaalkoeël het Tibbetts in die kop getref. Hy het in ‘n motor in dieselfde straat op sy ma se skoot gesit.

Tibbetts is op 8 Augustus in die hospitaal oorlede.

Mokwena is tydens die skietery in sy arm geskiet. Mokwena het ‘n saak van poging tot moord teen Khakhu geopen terwyl Khakhu se vriende ‘n saak van poging tot moord teen Mokwena aanhangig gemaak het.

Fourie het getuig dat Mokwena nie ‘n lisensie vir die vuurwapen gehad het nie en dat die vuurwapen nog nie gevind is nie.

“Die feit dat hy nie die vuurwapen vir ons kon gee nie wys op die risiko dat hy moontlik bewysstukke kan vernietig.”

Omphile Kedijang, Mokwena se regsverteenwoordiger, sê egter sy kliënt het sy samewerking aan die polisie gegee.

Khakhu het verlede week in die hof verskyn en sy saak is tot 29 Augustus uitgestel wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.

Lees ook:
Driejarige sterf ná skietery
Westbury-skietery: Tweede verdagte vas
Man ondervra oor Westbuty-skietery
Man in hof oor Westbury-skietery
Driejarige steeds kritiek ná skietery
Driejarige kritiek ná Westbury-skietery

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.