Westbury-skietery: Verdagte vrygelaat

Luke Tibbetts. Foto: Twitter

Luke Tibbetts. Foto: Twitter

Die man wat aangekla is van die rig van ʼn vuurwapen wat tot die skietery gelei het waartydens Luke Tibbetts (3) doodgeskiet is, is vrygelaat.

Ao. Gordon Billing, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê Keenan Mokwena (28) het verlede Vrydag in die Newlands-landdroshof in Johannesburg skuld erken, waarna hy tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R3 000 gevonnis is. “Hy het aangedui dat hy die boete gaan betaal en is daarna vrygelaat,” het Billing gesê.

Sers. Diedelof Fourie, ondersoekbeampte, het in Augustus in die hof getuig Mokwena en Lindray Khakhu (24), wat glo die skoot gevuur het wat Tibbetts doodgeskiet het, het op die dag van die skietery in Westbury eers ʼn woordewisseling gehad. “Mokwena is daar weg en het later teruggekeer met ʼn vuurwapen wat hy op Khakhu gerig het,” het Fourie getuig. Khakhu het glo reageer en op Mokwena, wat in sy voertuig was, begin skiet. ʼn Dwaalkoeël het Tibbetts, wat in sy ma se motor gery het, in sy kop getref.

Die driejarige seuntjie is op 8 Augustus in die hospitaal oorlede.

Mokwena is tydens die skietery in sy arm getref. Hy het ʼn saak van poging tot moord teen Khakhu geopen terwyl Khakhu se vriende ʼn saak van poging tot moord teen Mokwena aanhangig gemaak het.

Khakhu se verhoor sal na verwagting op 2 Maart volgende jaar afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

elsa vorster ·

Dit is erg n klein kindtjie is dood agv dwaal koeel so daar kan nou maar links en regs geskiet word Betaal net boete My kleinseun is deur n dwaalkoeel getref die saak is al seker in die argriewe gefile waar gaan ons eindig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.