Westville-rowers eis Sassa-geld

‘n Rower is op die toneel doodgeskiet. (Foto: Twitter)

Die rowers wat Donderdag by die Village Market-winkelsentrum toegeslaan het, het volgens die polisie Sassa-geld by die poskantoor in dié sentrum geëis. Een van die personeellede, ʼn vrou, is aangerand toe sy gesê het daar is geen geld by die poskantoor nie.

Die verdagtes het die vrou gedwing om ʼn onbekende bedrag geld, asook haar persoonlike juweliersware te oorhandig.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn verdagte Donderdagoggend buite ʼn winkelsentrum in Westville, Durban, doodgeskiet is ná ʼn skietgeveg tussen die rowers en twee polisiebeamptes uitgebreek het.

Genl. John Sitole, die nasionale kommissaris van polisie, het intussen die twee polisiebeamptes toegejuig vir hul dapperheid en optrede tydens die rooftog, wat op kamera vasgevang is.

Die twee lede, beamptes verbonde aan die Westville-polisiestasie, het gisteroggend omstreeks 08:30 afsonderlik op ʼn klag van ʼn gewapende roof by die sentrum gereageer.

Die drie verdagtes het uit die poskantoor gehardloop na ʼn afwagtende wit Toyota Hilux-wegkombakkie wat nog vier insittendes daarin gehad het.

Die verdagtes, gewapen met AK47-gewere en pistole, het in die bakkie weggejaag terwyl hulle  deurlopend op die polisiebeamptes geskiet het. Verskeie voertuie, waaronder die polisievoertuig, en geboue is in die proses beskadig nadat hulle deur die koeëlreën getref is.

Die polisiebeamptes het onverpoos terugbaklei teen die rowers en ʼn 34-jarige verdagte is noodlottig gewond, terwyl die ander verdagtes daarin geslaag het om te ontsnap. Daar word geglo dat ander verdagtes ook gewond is tydens die skietery.

Een van die polisiebeamptes het ligte beserings aan albei arms opgedoen, terwyl die tweede lid ongedeerd was.

ʼn Z88-pistool, met die reeksnommer afgevyl, is op die toneel gevind. Kort daarna is die bakkie verlate en aan die brand by 28ste Laan in Claremont, wes van Durban, gevind. Die voertuig is in Julie vanjaar in Malvern, Durban, gekaap.

“Die optrede van die twee polisiebeamptes wat gereageer het, was buitengewoon patrioties en onbaatsugtig. Ek het vanoggend albei kollegas gebel en gelukgewens met hul onwrikbare vasberadenheid en prysenswaardige dapperheid. Ek sal hulle ook binnekort besoek,” sê Sitole.

Die polisie het versoek dat enigiemand met inligting rakende die voorval of verdagtes die polisie se noodnommer by 10111 skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hagar

Bevorder daai manne in rang en salaris.

SjN

Die rowers se bestaande papgeld wat hul by sassa kry is verseker te min, wou net aanvul.

toy

Ongevoelige mense in die samelewing.

Knersus

Z88 – standaard Polisie wapen ….. Een vermiste wapen gevind…..

Pampoen

Goed gedaan polisiemanne. Publiseer sommer hulle name en gee hulle ‘n Bells!