Wet oor Grondhof ‘maak nie sin’ – AfriForum

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

AfriForum het Vrydag kommentaar ingedien om die Wetsontwerp op die Grondhof te verwerp. Die wetsontwerp is daarop gemik om twee nuwe howe te skep: die Grondhof en die Grondappèlhof. Dié howe moet dispute oor grond vinniger oplos, in die geval waar die Grondeisehof hierin misluk. Permanente regters sal ook vir dié howe aangestel word.

“Die voorgestelde wetsontwerp bevat ’n legio aspekte wat nie sin maak nie en misbruik kan word. AfriForum het ons saak baie duidelik in ons voorlegging gestel en hoop dat geregtigheid sal seëvier,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud.

Die burgerregteorganisasie voer daarom aan dat die voorgestelde wetsontwerp verwerp moet word en nie in sy bestaande formaat goedgekeur behoort te word nie.

’n Paar van AfriForum se besware sluit in:

  • Die Grondhof moenie ’n billikheidshof wees nie. Vir regsekerheid behoort die Grondhof slegs ’n geregshof te wees.
  • Die aspekte van ras en geslag behoort nie die oorwegende faktor te wees in die aanstel van regters vir dié hof nie.
  • Die voorgestelde Grondhof moenie op informele grondslag werk nie.
  • Regters behoort nie die diskresie te hê om ontoelaatbare bewysstukke toe te laat nie.
  • Die Grondappèlhof behoort nie uitsluitlike jurisdiksie te hê om appèlsake, met die uitsluiting van die Hoogste Hof van Appèl, aan te hoor nie.

AfriForum meen ook die voorgestelde wetsontwerp sal meer dispute en regsuitgawes, asook verdere vertragings in die afhandeling van gronddispute tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Die nuwe skeppings gaan my verstand te bowe! Is die kaders nie veronderstel om die land behoorlik te bestuur as om hul met beuselagtighede op te NET om ‘n sekere bevolkingsgroep konstant te terroriseer om sodoende hul rassistiese drang uit te leef en hul totale onvermoeë te verbloem?

annie ·

Mens hoef nie ‘n siener te wees om die oogmerke met die ‘bos’hof te sien nie. Landswette wil gesystap word. Alle aanstellings in die hof gaan op grondgrype gerig wees en wit boere sal op geen eienaarsregte aanspraak kan maak nie. Die grondwethof sal ook geen oorkoepelende sambreëlmagte kry nie. Hierdie kamma-hof gaan die grootste vuur in die geskiedenis van dié land aan die brand steek.

Cherokee ·

annie, met hierdie tipe kommentaar, vêrsiende en uiters raakseggende voorspelling, behoort jou naam nie in kleinletters te wees nie… dankie vir woorde wat raakgelees behoort te word, deur mense wat ‘n verskil sal kan maak.

Tiptol ·

En as die nuwe howe met die nuwe regters nie hul werk doen of kan doen nie, word daar net nog nuwe howe met nuwe regters geskep. Sodoende net nog nuwe geleenthede vir nuwe korrupsie. Wat ‘n wonderlike nuwe idee!

koos10 ·

‘n Slim man het eendag vir my gesê: As jy beheer maatreeëls oor beheer maatreëls instel, het jy beheer verloor. Dit som die huidige regering in my oë baie goed op!

Mariana ·

Grondhof maak nie eers sin nie. Net nog ‘n manier om mense van hul eiendom te ontneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.