Wet oor grondhof steeds ‘problematies’  

Argieffoto

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum verteenwoordig die Grondhofwetsontwerp steeds ’n onbehoorlike, duur en potensieel ongrondwetlike poging om die beregting van grondverwante geskille in Suid-Afrika te verbeter. Die organisasie het skriftelike vertoë tot die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee oor veiligheid en geregtigheid gerig en aangedring dat die wetsontwerp in sy huidige gewysigde vorm verwerp word.

Die wetsontwerp poog om twee nuwe howe daar te stel: die Grondhof en die Grondhof van appèl. AfriForum was betrokke by die openbare deelnameproses rakende hierdie wetsontwerp en het in 2021 kommentaar daaroor ingedien toe die wetsontwerp voor die Nasionale Vergadering gedien het.

“Wysigings en veranderings wat aan die wetsontwerp aangebring is, is bemoedigend en word verwelkom, maar het nie die mees fundamentele aspekte van die wetsontwerp, soos deur AfriForum uitgelig, uitgeklaar nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

AfriForum is veral bekommerd daaroor dat die betrokke minister die hof se interne prosesse en reëls deur middel van wetgewing sal kan reguleer en sodoende by die werkinge van die hof sal kan inmeng. “Dit is ook steeds kommerwekkend dat die hof op ʼn informele grondslag sal werk en dat regters die diskresie sal hê om bewyse wat ontoelaatbaar in ander howe is, in die Grondhof toe te laat,” lui die brief wat die organisasie aan die NRP gestuur het.

AfriForum wys ook daarop dat die gebrek aan politieke wil en hulpbronne om die huidige agterstand in grondeise af te handel, nie deur die nuwe wet opgelos sal word nie, maar eerder bykomende administratiewe rompslomp sal veroorsaak.

“Die grondrestitusieproses wat tans van toepassing is, is gesaboteer deur wydverspreide korrupsie, politieke hebsug en wanbestuur. Totdat hierdie basiese kwessies opgelos is, sal geen aantal nuwe howe bydra tot die oplossing van grondverwante probleme nie. Die probleem is nie die gewillige-koper-gewillige-verkoper-model nie. Die probleem is dat die ANC-regering homself bewys het as ’n onwillige verspreider van die grond wat hy oor die jare opgegaar het,” sê Van Zyl.

“Selfs in sy gewysigde vorm verteenwoordig hierdie wetsontwerp ’n poging van die regering om met nat hout te probeer vuurmaak sonder om die onderliggende kwessies wat die bestaande grondrestitusieproses teister uit te klaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.