Wet oor politieke skenkings het reuseskuiwergat

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in die parlement. (Foto: Verskaf)

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope week ʼn nuwe wet onderteken wat politieke partye dwing om die name van hul donateurs en die grootte van politieke donasies bekend te maak.

Burgerlike organisasies meen grotendeels dat dié ʼn oorwinning vir deursigtigheid is, maar politieke kenners meen indien daar enige oorwinning vir die burgerlike organisasies was, is dit baie klein.

Dit is omdat die nuwe wet bepaal dat slegs skenkings van meer as R100 000 verklaar moet word. Weldoeners kan dus veelvoudige skenkings van net minder as R100 000 maak sonder dat dit aangemeld hoef te word.

Voorstanders van openlikheid in hierdie verband wys tereg daarop dat donateurs aan die een kant partye kan omkoop en aan die ander kant dat dit ʼn verborge hand kan wees wat sorg dat die party die belange van die donateurs eerder as die belange van die kiesers of die land dien, soos in die geval van staatskaping deur die berugte Gupta-familie.

Teenstanders van volkome openlikheid wys daarop dat die publikasie van donateurs- en donasie-inligting van veral opposisiepartye die skenker in die regerende party se spervuur kan laat beland en dat die gevolg sal wees dat minder skenkings aan opposisiepartye gemaak sal word deur lede van die publiek wat geviktimiseer sal voel.

Die onafhanklike verkiesingskomitee (OVK) het in Julie verlede jaar in Kaapstad openbare insette aangehoor oor die finansiering van politieke partye. Verskeie organisasies, insluitend My Vote Counts, Right2Know en die vakverbond Cosatu, het sterk pleidooie aan die OVK gelewer dat alle skenkings aan politieke partye openbaar gemaak moet word.

Terwyl die burgerlike organisasies so ywerig aan’t voorleggings maak was, het hulle klaarblyklik nagelaat om te besef dat die politieke partye teenwoordig (ANC, DA, EFF, Inkatha en die VF Plus) besig was om onder mekaar te koukus, en dat daar grootliks konsensus was.

Uiteindelik het net twee partye volledige voorleggings gedoen, naamlik die ANC en die DA. Dit was opmerklik dat die twee partye se teenstand teen die volkome openbaarmaking van donateurs en donasies op presies dieselfde regspunt berus het, naamlik dat ʼn wet altyd ʼn regulasie troef. Burgerlike organisasies het klaarblyklik daardie argument misgekyk.

Die politieke partye het nie op hul laat wag nie. Die Wetsontwerp op die Finansiering van Politieke Partye en die Wysigingswetsontwerp op die Bevordering van Toegang tot Inligting is in rekordtyd deur die parlement aanvaar en die president het dit onderteken.

Die Wysigingswet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) brei Paia uit om, behalwe die reg tot toegang tot tersaaklike administratiefregtelike inligting in besit van die staat, ook toegang tot inligting van politieke partye te verkry.

Die lotsbepalende stuk wetgewing is egter die Wet op die Finansiering van Politieke Partye. Hierdie wet stel ʼn drempelbedrag van R100 000 skenking per persoon of regspersoon per jaar, met slegs skenkings bó die drempel wat skriftelik verklaar moet word. Dit laat ʼn gat so groot soos ʼn waenhuisdeur vir politieke partye om deur te glip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda ·

Donate R99 999.00 (1 Rand kort ) en dan hoef jy dit nie te verklaar nie – Regtig ou rampie!!!!!!! Alles moet verklaar word, dan is jou wet Legal anders net nog n skywe vir korrupte amptenare.

Michael ·

Niemand weet regtig waar die geld heen gaan en wie daardie somme geld bestuur en hanteer nie, jy sien kospakkies en dit na (sekere) mense toe gaan, maar hulle beeld ook net sekere plekke en mense uit wat hulp ontvang.

Isabella ·

Dis net om te sien WAT en WIE vir Afriforum /Solidariteit ens gee gan die anc dieselfde doen sodat ons sien wat hul kry …daar gan geen deursigtigheid wees

JohanR ·

Sal die ANC in volgende verkiesing, die miljoene uit skelm sigarete verkoope tydens Covid-19 bekend maak? Sal daar ‘n volgende verkiesing wees, of sal SA ‘n “one party state” wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.