Wet van Transvaal bekruip Zuma

Voormalige pres. Jacob Zuma (Foto: ANA)

Die proses het begin om te verseker dat oudpres. Jacob Zuma self betaal vir die R15,3 miljoen regskoste wat voortspruit uit die hofsaak oor sy vervolging op korrupsieverwante klagte wat hy onlangs teen die DA verloor het.

Die presidensie het vroeër vandeesweek in reaksie op ʼn DA-prokureursbrief geantwoord dat Zuma reeds in 2006 ʼn versoek gerig het dat sy regskoste kragtens die Staatsprokureurswet van 1957 deur die staat betaal word met dien verstande dat hy die geld sal terugbetaal indien hy sou verloor.

Terselfdertyd kon die presidensie nie ʼn skriftelike ooreenkoms in hierdie verband opspoor nie.

Maar James Selfe, voorsitter van die DA se federale bestuur, het nou uitgewys dat die ooreenkoms tussen die staat en Zuma duidelik moes geld vir die kriminele saak wat deur die staat teen hom aanhangig gemaak is – nie die siviele saak wat hy teen die DA verloor het nie.

“Die DA sal nou ʼn hofbevel aanvra dat alle betalings op belastingbetalerskoste vir die siviele hofsaak onwettig is,” het Selfe gesê.

“Ons sal die hof ook versoek om alle besluite om Zuma se regskoste in die siviele saak te betaal, ter syde te stel sodat hy dit self moet betaal,” aldus Selfe.

Hy het ook uitgewys dat die staatsprokureur onder geen verpligting staan om Zuma tot hulp te wees nie – dis diskresionêr, sê hy.

“Uiteindelik behoort Zuma nie geregtig te wees op ʼn enkele sent belastingbetalersgeld nie. Die DA sal voortveg om dit te verseker. As pres. Cyril Ramaphosa nie die durf het om die regte ding te doen nie, sal die DA dit doen,” het Selfe gesê.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ontevrede leser ·

daar gaan niks van kom nie, jz lag openlik en nie eers in sy mou vir die da

Pieter ·

Daar is nie meer n plek soos transvaal nie dit het bestaan toe dinge nog reg gewerk het en bevoegde mense in beheer was .Ek sou die opskrif maak ‘ dont do the crime if you cant do the time ” .

christa ·

Zuma moet sy eie skuld betaal. Hoekom moet die man op straat sy skelmstreke betaal? ANC is so korrup

Cherokee ·

‘Daar gaan niks van kom nie’ is een van die daaglikse rympies wat sorteer onder ‘klaagrympies’. Dit duik onophoudelik op hetsy waaroor berig word.

Droewige ·

Wat ‘n droewige gesig…….. ek glo weer dit is hoe hy voel. Wens mens kon hom net in ‘n kou gooi, want die vervolging sal klomp geld kos en hy sal weer nuwe streke probeer. Net so jammer as die gewone persoon so iets doen is dit dadelik tronk toe, groot borg gelde en as jy skuldig is sit jy, geen lenings vooraf, of sogenaamde hulp, want JZ leen mos nie, hy voel dit kom hom toe, na al die geld wat verkwis is.

Paul ·

Hehehehe, lag hy, druk die lippe op mekaar en blaas daardeur vir jou …. pfffff!

Paul ·

Dis die ou wat die lippe saam pers en daardeur blaas ……. pfffff ….

Alida ·

Die skelm is nie verhewe bo die wet nie. Kry hom en Guptas in die hof en laat Zuma SELF betaal vir die koste. Hy het SA miljarde gekos. Watter deel verstaan die regering nie?

Tammy ·

Daar is ongelukkig nog teveel kaders wat Zuma beskerm en…hulle word self ook beskerm….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.