Wetenskaplike van PE ontdek agt nuwe reptielspesies

Dr. Werner Conradie hou ‘n nuut ontdekte slangspesie vas in die suide van Angola. (Foto: Werner Conradie/ Facebook)

Dr. Werner Conradie, ʼn natuurbewaarder van die Oos-Kaap, se baanbrekersnavorsing in die Okavango-delta in Botswana het nie net agt nuwe spesies opgelewer nie, maar ook ʼn dieper begrip gebring van dié gebied se uiterste belang vir mense- en dierelewe.

Hy hoop nou sy werk sal bydra tot die beskerming van die kosbare en unieke natuurgebied.

Conradie is die kurator van die herpetologie-afdeling by Bayworld, ʼn natuur- en kultuurhistoriese museum in Gqeberha (Port Elizabeth). Sy doktorsgraad in natuurbewaring het hy op 5 April op die George-kampus van die Nelson Mandela Universiteit ontvang.

Luidens ʼn verklaring deur dié universiteit het Conradie die grootste deel van sy lewe op Willowmore in die Karoo gewoon en later verhuis na Uniondale, waar slange aanvanklik nie sy eerste liefde was nie.

Sedert sy aanstelling by Bayworld in 2007 het hy egter in slange begin belangstel.

Dr. Werner Conradie (regs), saam met sy studieleier, professor Jan Venter, by die Nelson Mandela Universiteit se gradeplegtigheid in George. (Foto: Nelson Mandela Universiteit/Webtuiste)

Sy tesis, “Herpetofaunal diversity and affiliations of the Okavango River Basin, with specific focus on the Angolese headwaters”, fokus hoofsaaklik op die taksonomie van amfibieë en reptiele van Suider-Afrika. Die navorsing is gefokus op drie hoof geografiese gebiede: die Oos-Kaap van Suid-Afrika, noordelike Mosambiek en Angola.

Die opname het in 2012 begin en tot 2019 geduur. Die slange en amfibieë wat gevind is, het sommige spesies ingesluit wat nog nie voorheen in Angola gesien is nie en ander is nuwe ontdekkings.

Volgens Conradie het die nuwe data wat gegenereer is, hom in staat gestel om die gebied naby die oorsprong van die Okavango-rivier te identifiseer as ʼn gebied van hoë diversiteit en endemisme, wat neerkom op hoë bewaringsbelang.

“Deur dié gebied te beskerm, beskerm ons die wêreldbekende delta en sy oorvloed van wild, tesame met die lewensaar wat hierdie water ook aan mense verskaf,” het Conradie aan Daily Maverick gesê.

Conradie meen dat die burgeroorlog in Angola daartoe gelei het dat die Angolese kant van die Okavango-delta in terme van navorsing verwaarloos is, maar weens die isolasie daarvan en die gevaar van landmyne is die gebied beskerm.

Conradie het nog altyd beoog om sy doktorsgraad te voltooi en dit was dit die begin van sy Okavango-avontuur.

Hy beskryf die Okavango-delta as ʼn gebied wat ryk is aan biodiversiteit en een van die gebiede in die wêreld met die grootste bevolking van olifante.

Die delta-omgewing is afhanklik van water uit Angola, wat deur Angola en Namibië vloei. Volgens Conradie is daar kommer oor ʼn afname in die hoeveelheid water wat in die gebied invloei, asook oor  ʼn vertraging in seisoenale oorstromings en ʼn daling in die voëlbevolking.

“Ons wou uitvind wat dit veroorsaak. Die agt nuwe spesies wat ons gevind het, was amper per ongeluk,” het hy gesê.

Vyf was nuwe slangspesies, insluitend ʼn waterslang. Hy werk nou daaraan om ʼn sesde slangspesie te beskryf. Die navorsers het die slange in die fynste besonderhede bestudeer en genetiese monsters vergelyk om ʼn nuwe spesie te bevestig.

Die ander nuwe spesies wat gevind is, was twee verskillende geitjies.

Volgens Conradie vat dit ongeveer drie jaar om een spesie te beskryf.

Om navorsing in die Okavango-delta te doen hou sy eie unieke struikelblokke in.

“Waar ons gewerk het, is daar nog baie landmyne. Ons was dus beperk waarheen ons kon gaan. Halo, die ontmynmaatskappy wat ons vergesel het, het vir ons gesê waar dit veilig is om te beweeg. Oorkant een van die riviere waar ons gekamp het, het die ouens die volgende dag landmyne aan die oorkant van die rivier opgetel,” sê Conradie.

Conradie en sy span het in die suidooste ʼn paar ontmoetings met leeus en olifante gehad, maar hoe hoër hulle beweeg het, hoe skaarser was die diere.

Hy het egter nooit onveilig gevoel nie. “Ons het die ouens van Halo die heeltyd by ons gehad. Dit is ʼn rowwe lewe om hierdie ekspedisies te onderneem. Jy leef van rys en boontjies en jy slaap in ʼn eenmantent. Jy moet alles inbring en alles weer saam met jou uithaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.